Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Toringkerkklok lui dalk gou

Byna drie jaar nadat die Toringkerkklok deur die munisipaliteit stilgemaak is, lui die klok steeds nie – ten spyte daarvan dat die breë Paarl-publiek hul misnoeë hieroor wyd en syd uitspreek.

Die Toringkerk is in 2016 al deur die Drakenstein-munisipaliteit beveel om die historiese klokke van die kerk stil te maak omdat ’n enkele egpaar wat in Pastorielaan woon en ’n hondesalon daar bedryf, beweer dat die kerklokke, wat sedert 1906 lui, hulle slaaplose nagte besorg.

Hulle het die kerk en die munisipaliteit met regsaksie gedreig, en so het die stadsvaders summier die kerk se klokke gemuilband.

Hierdie optrede het gelei tot ’n byna ongekende protes uit die gemeenskap van die Paarl en selfs elders, maar is geheel en al deur die munisipaliteit geïgnoreer.

Onlangs ook het ’n inwoner weer op ’n sosialemediaplatform die publiek genooi om JA of NEE te antwoord op die vraag of die klok weer moet lui.

Die reaksie was oorweldigend en bykans 1 500 mense het met JA geantwoord en gesê die klokke moet weer lui.

Voor hierdie veldtog van Marlon Hamitera was daar die afgelope maande verskeie soortgelyke veldtogte waaruit die terugvoering geblyk het dat die algehele gevoel onder inwoners van Drakenstein is dat die klok gewis weer moet lui.

Marlon, wat nie eens van die Toringkerk-gemeente afkomstig is nie, het gesê dat die situasie nie net lagwekkend is nie, maar ook baie kommerwekkend. “Hoe kan die munisipaliteit die historiese en baie belangrike kerkklok laat ophou lui net omdat twee mense kla? Ek voel baie sterk daaroor dat die klokke moet lui. Dit is almal hier se herkoms.”

Marlon vertel verder dat sy liefde vir kerkklokke al van jongs af kom toe hy as kind saam met sy oupa, wat ’n koster in die Oos-Kaap was, inspeksies by verskeie kerke se klokke gedoen het.

Hy sê hy was teleurgesteld toe hy lees oor die klagtes oor die kerkklok omdat dit vir hom so ’n pragtige historiese gebou is wat so baie vir die Paarl beteken.

“Ek het gevoel vandat die klok nie meer lui nie, moet iemand darem ’n werklike poging aanwend om die klok weer te laat lui.

“Hierdie kerk is belangrik, want dit is een van die hoogste torings in die dorp. Mense het miljarde rande geskenk vir die Notre Dame-kerk toe dit onlangs afgebrand het. Hoekom kan ons in die Paarl nie ook iets aan die saak doen nie?” vra hy.

Die knellende vraag wat deur die gemeenskap gevra word, is as dit so duidelik is dat die publiek wil hê die klok moet lui, hoekom buig die munisipaliteit dan die knie vir slegs een egpaar wat oor die klok kla? “Is dit hoe demokrasie werk?” wil baie weet.

Maar, daar is wel lig aan die einde van die kloktonnel. Anré Koeglenberg, die Toringkerk se woordvoerder, het vandeesweek gesê die elektroniese toestel wat vervaardig word om te sorg dat die kerkklok nie in die middernagtelike ure lui nie, word binnekort in die kloktoring op die proef gestel.

Die munisipaliteit het nadat hy die klagte van die Pastorielaan-egpaar oor die lui van die klokke ontvang het, ’n desibellesing laat doen oor die volume van die kerkklok. Volgens die munisipaliteit was die uitslag hiervan dat die klok wel snags die wettige “geraasbeperkings” oorskry het.

Die toestel wat nou spesiaal deur ’n plaaslike elektroniese maatskappy in die Paarl ontwerp is, sal ná suksesvolle installasie dus verseker dat die klokke nie tussen 22:00 en 06:00 sal lui nie.

Dit behoort almal hopelik tevrede te stel.

The church bells of Paarl’s Toringkerk may soon be allowed to ring again, thanks to a device that will prevent it from ringing during the quiet night hours.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.