Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Twee plase aangeval

Nadat ’n gesin op die plaas Optenhorst in die Bovlei buite Wellington aangeval is, het ooreenstemmende kenmerke van die verdagtes bekend geword.

Melanie en Ludwig Uys en hul drie kinders is Vrydagaand omstreeks 20:45 oorval toe hulle buite hul huis gebraai het.

Volgens die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder kapt. F.C. van Wyk het vyf verdagtes, wat met klapmusse vermom was, die gesin se huis bekruip.

Van Wyk het gesê een van die mans het ’n vuurwapen gehad en die ander vier was met messe bewapen. Hulle het Ludwig na bewering gedreig en hom na die huis geneem waar sy gesin was en almal in ’n kluis toegesluit. Die huis is toe geplunder.

Melanie het met Paarl Post gepraat oor die voorval. Sy vertel toe sy die mans sien, het sy na haar kinders gehardloop en die voordeur probeer toeslaan, maar die mans het haar oorrompel en die huis binnegedring. Sy sê sy is drie keer met ’n mes in die linkerhand en een keer in die bors gesteek.

“My eerste reaksie was om my kinders te beskerm en my man se eerste reaksie was om [die verdagtes] te bestorm sodat hulle nie by ons kon uitkom nie,” sê sy.

Ludwig se linkerknie is op drie plekke gebreek en ’n regterrib gekraak in die geveg.

Melanie sê almal in die gesin, behalwe haar vierjarige dogtertjie, se hande en voete is vasgebind met drade van elektriese toestelle wat in die huis was. Sy sê haar dogtertjie was om haar lyf gebind.

“My 10-jarige seuntjie het in daardie pik-nag donker in die kluis homself losgekry, my man losgemaak en hulle het my toe losgemaak,” sê sy en verduidelik Ludwig het toe hulp ontbied.

Dit is die tweede aanval in net meer as ’n week in die Drakenstein-omgewing. Paarl Post het verlede week berig dat ’n man en sy vrou ook deur vyf mans op hul plaas by die Agter-Paarlpad aangeval is.

Die sekerheidsmaatskappy Vetus Schola Paarl se tak- en bedryfsbestuurder, Patrick Hall, sê mense op plase moet te alle tye in hul huise bly as hulle iets verdags hoor. “Wanneer jy saans gaan slaap, hou honde in die huis, maak seker jou alarmaktiveerders om die perseel is aan en moenie uitgaan om te gaan kyk wat aangaan as jy iets verdags hoor nie,” sê Hall.

Sy raad is om eerder die paniekknoppie te druk om dadelik hulp te ontbied.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.