Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vallei treur oor Daniels se dood

Die geliefde leerkrag en sportomroeper van die Paarl, Peter Daniels, is dood nadat hy ’n weke lange stryd teen Covid-19 gevoer het.

Daniels is byna drie weke gelede in Mediclinic Paarl opgeneem met mediese komplikasies nadat hy Covid-19 opgedoen het.

Hy het hierna in ’n koma verval. Die hoop het egter vroeër verlede week opgevlam toe hy kortliks sy bewussyn herwin het, maar sy toestand het Vrydag weer verswak.

Hy is Saterdagoggend omstreeks 04:30 (25 Julie) oorlede.

Daniels was ’n onderwyser by Paarlzicht Primêr.

Hy was baie betrokke by talle sportsoorte soos rugby en atletiek, maar was veral baie lief vir fietsry en het baie jare as omroeper by die bekende Boxing Day-sportdag in Faurestraat in die Paarl opgetree. Hy het die geleentheid sedert 1976 ononderbroke bygewoon.

Hy het self as jongman ’n bietjie fietsgery, “maar nie so ernstig soos die manne van vandag nie”, het hy verlede jaar skertsend aan Paarl Post vertel. Hy het ook ’n passie daarvoor gehad om jong mense aan te spoor om by die sport betrokke te raak en hulle gehelp waar hy kon.

Boodskappe van medelye het in ’n regstreekse uitsending op Radio KC se sportprogram, waar hy voorheen ’n mede-aanbieder was, nie net uit die Paarl nie, maar van reg oor die provinsie ingestroom.

Wat veral uitgestaan het was sy liefde vir sport as ’n manier om kinders uit minderbevoorregte gebiede ’n beter toekoms te gun.

Een van sy bekende slagspreuke was: “A child in sport is a child out of court.”

Daniels is in 2017 deur die Kaapse Wynland Sportraad as radiojoernalis van die jaar bekroon.

In een van sy laaste uitsendings op Radio KC het hy sy droom vir sy gemeenskap bekend gemaak: “My droom vir my gemeenskap is dat misdaad en haat sal verdwyn en dat ons as ’n gemeenskap in liefde en harmonie met mekaar sal leef.”

Daniels word oorleef deur sy vrou, Thiry, sy dogter, Tanya Daniels-Naude en kleinkind Taryn Daniels, en twee seuns. Vir die begrafnisreëlings kan die publiek die familie by 076 138 5356 skakel.

Radio KC het ook nog twee omroepers, Alie Claasen (25 Julie) en Tom Pedro (7 Junie), weens Covid-19 aan die dood afgestaan.. The much loved and respected teacher and sport personality of Paarl, Peter Daniels, passed away after a three week battle with Covid-19.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.