Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Voëls ly oor oes van boom-dele

Die ongereguleerde oes van hout, bas en boomstamme in inheemse woude in die Oos-Kaap het ’n negatiewe impak op voëldiversiteit in dié woude.

Dít was die bevinding van ’n studie wat onlangs by die Universiteit Stellenbosch (US) gedoen is.

Altesaam 46% van Suid-Afrika se oorblywende natuurlike woudbedekte gebiede kom in die Oos-Kaap voor en sluit baie van die land se mees bedreigde woudtipes in.

Dit maak ook deel uit van die Maputuland-Pondoland-Albany- gevaarpunt vir biodiversiteit. Hoewel daar ’n toename is in die oppervlakte wat met woude bedek is, het die agteruitgang van die woude, wat hoofsaaklik aan informele oesbedrywighede toegeskryf kan word, ’n negatiewe invloed op die voëllewe in hierdie woude.

In ’n studie wat verlede week in die vaktydskrif Forest Ecology and Management gepubliseer is, het die PhD-student Jessica Leaver en mede­navorsers die impak van hout-, bas- en paal-oesery op die voëldiversiteit in vyf Oos-Kaapse woude ondersoek, naamlik Mqaba, Manubi, Ntlaboya, Gomo en Pirie.

Hulle studie het nie slegs op die aantal spesies gefokus nie, maar ook op die aantal ekologiese rolle wat voëls binne hierdie woude vervul. “Spesies wat meer diverse en gespesialiseerde rolle in ’n woud vervul, is meer sensitief vir die versteuring van die omgewing,” verduidelik Leaver.

Volgens prof. Michael Cherry, mede-outeur en ’n gedragsekoloog in die departement van plant- en dierkunde aan die US, is die handhawing van voëldiversiteit van kritieke belang vir die funksionering en regenerasie van hierdie woudstelsels, waarvan sommige al minstens vyf miljoen jaar oud is.

“Baie verskillende voëlspesies speel baie belangrike rolle in hierdie woude, byvoorbeeld ten opsigte van die verspreiding van sade en in die proses van bestuiwing.

“Wanneer hierdie voëls en die funksies wat hulle vervul begin verdwyn, raak dit ook die algehele gesondheid en veerkragtigheid van die woude,” waarsku Cherry.

Volgens navorsing is altesaam 64 voëlspesies in die vyf woude aangeteken: 23 spesies in Gomo, 42 spesies in Mqaba, 51 spesies in Manubi, 44 in Ntlaboya en 38 in Pirie. Sover bekend is dit die eerste keer dat voëldiversiteit vir dié woude aangeteken is.

Navorsers aan die Universiteit Stellenbosch beraam dat bykans 30% van bome in Oos-Kaapse woude waarvan die bas verwyder is, tot so ’n mate deur basstroping beskadig is dat dit binne die volgende jaar sal doodgaan. Dié verlies aan bome het ’n negatiewe uitwerking op verskillende kategorieë van spesialis-voëlspesies, by name die insek- en saadvretende spesies.

Van die insekvretende voëls wat negatief geraak word, sluit in die swartvlieëvanger (Melaenornis pammelaina), die bloukuifvlieëvanger (Trochocercus cyanomelas) en die donkervlieëvanger (Muscicapa adusta). Die rede hiervoor is dat meer sonlig, wat weens bome wat doodgaan deur die boomkap dring, tot minder insekte op die woudvloer lei.

Drie spesies saadvreters, naamlik die gestreepte kanarie (Crithagra scotops), die groenkolpensie (Mandingoa nitidula) en die kaneelduifie (Aplopelia larvata), word ook op dieselfde wyse negatief geraak. Hoe meer sonlig deur die boomkap dring, hoe meer loofstruike groei op die woudvloer ten koste van gras. Daar is dus minder saad beskikbaar.

Die oes van pale, oftewel die selektiewe verwydering van kleiner boomstamme wat as pale gebruik kan word, het ook ’n negatiewe uitwerking op spesialis-woudspesies soos die bosmusikant (Ploceus bicolor), die bloukatakoeroe (Coracina caesia), die olyfboslaksman (Chlorophoneus olivaceus), die geelstreepboskruiper (Phyllastrephus flavostriatus) en die geelkeelsanger (Phylloscopus ruficapilla).

Bogenoemde is almal woudvoëls wat hoofsaaklik hou in die boomtoppe wat die boomkap van die woud vorm.

In teenstelling hiermee, is gevind dat die oes van pale ’n positiewe uitwerking op die meer algemene voëlspesies gehad het, byvoorbeeld die Kaapse glasogie (Zosterops capensis) en die swartkopwielewaal (Oriolus larvatus). Hierdie spesies pas makliker by veranderings in hul habitat aan.

’n Studie wat in 2017 deur Cherry se navorsingsgroep gedoen is, het getoon dat daar sedert 1992 ’n afname was in die verspreidingsarea van die helfte van Suid-Afrika se woudafhanklike voëlspesies. Hierdie afname in voorkoms was die prominentste in die Oos-Kaap, ten spyte van die toename in die oppervlakte wat in dieselfde tydperk in hierdie streek deur woude bedek word.

“Dit blyk nou dat die agteruitgang van die habitat, wat voortspruit uit die informele oespraktyke, ’n negatiewe invloed het op die aantal ekologiese rolle wat deur woudvoëls in hierdie streek vervul word, en dit dra by tot die afname in hulle voorkoms,” waarsku Cherry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.