Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vragmotorbrande versprei na Paarl

Die landwye aanvalle op vragmotors wat weer opgevlam het, het vandeesweek na die Drakenstein-streek oorgespoel.

Terwyl vragmotors in verskeie gebiede oor die land aan die brand gesteek is of doelbewuste ontwrigting op paaie veroorsaak het, is twee vragmotors ook Sondagaand 1 September hiér aan die brand gesteek. Dié neiging spruit uit ontevredenheid oor buitelandse burgers wat plaaslik as vragmotorbestuurders aangestel word.

In die Drakensteinse voorvalle is die eerste vragmotor volgens die Paarl se polisiewoordvoerder, kapt. Louise du Plessis, omstreeks 23:00 bo in die Dutoitskloofpas geteiken. Die bestuurder het in Kaapstad se rigting gery toe hy noodgedwonge voor versperrings in die pad moes stilhou. Die vragmotor het plastiekhouers vervoer.

“Die bestuurder is hierna deur agt mans genader wat hom gedwing het om die vragmotor te verlaat,” vertel Du Plessis. Hulle het toe die vragmotor aan die brand gesteek, wat heeltemal uitgebrand het. Die skade beloop sowat R3 miljoen. “Die bestuurder het te voet van die toneel gevlug en die voorval by die Paarl-Oos-polisiekantoor aangemeld.”

In die tweede voorval het ’n vragmotor net ná 23:00 voor die Hugenotetonnel onklaar geraak en die bestuurder moes van die pad trek. Hy was in Worcester se rigting onderweg, maar nog aan die Paarl se kant van die tonnel.

’n Groep mans, wat in vyf verskillende motors op die toneel toegesak het, het die bestuurder gedwing om uit te klim, waarna hulle die voertuig aan die brand gesteek het. Die skade beloop volgens Du Plessis sowat R350 000.

Soortgelyke voorvalle het Maandag- en Dinsdagaand in Paarlse buurdorpe gebeur. ’n Vragmotor is buite Philadelphia en ook buite Worcester aan die brand gesteek.

Volgens Kenny Africa, provinsiale verkeershoof, was die eerste vragmotor op die N7 na Malmesbury onderweg toe dit net na 22:00 bestook is. Die vrag het volgens Africa sonkragpanele vervoer. Hy sê die hele vrag en die perd is in die brand verwoes.

In die ander voorval Dinsdagnag is ’n vragmotor by die Rawsonville-weegbrug van die pad gedwing en met ’n petrolbom aan die brand gesteek.

’n Paarliet is vroeër vanjaar dood toe sy vragmotor op 2 Junie met petrolbomme gegooi is. Bernard Groenewald (49) en sy swaer was na Johannesburg onderweg toe hulle sowat 10 km buite Touwsrivier gestop het om te rus.

Hy het wakker geword toe hy reeds gebrand het. Groenewald het twee weke ná dit aan 60% -70%-brandwonde beswyk.

Die polisie ondersoek in albei Paarl-gevalle kwaadwillige saakbeskadiging. Enigeen met inligting word versoek om die Paarl-polisie by 079 894 1706 te bel.. Two trucks were set alight outside Paarl on Sunday, 1 September and two others in nearby towns. The attacks are apparently related to a nationwide xenophobic protest.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.