SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Nuus
Vrugtevlieg word bekyk

Insekkundiges verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) se departement bewaringsekologie en entomologie maak deel uit van ’n grootskaalse navorsingsprojek wat kundiges uit 15 lande betrek.

Dit is daarop gemik om wetenskaplike prosesse en tegnologie te ontwikkel waarmee die groeiende vrugtevlieg­probleem in Europa beperk en bestuur kan word. Ingryping is belangrik veral in die lig van klimaatsverandering.

Die US-navorsingsgroepe van prof. John Terblanche, ’n kundige oor insekfisiologie, en prof. Pia Addison, ’n kundige oor kwessies rakende plaagbestuur, maak deel uit van die FFA-IMP-buiteseisoense projek.

Navorsing sal gedoen word oor hoe gevestigde of ontluikende probleemspesies van vrugtevlieë buite seisoentye danksy geïntegreerde bestuursmetodes en tegnologie beperk kan word.

Die projek se fokus is op die voorkoms van drie soorte regte vrugtevlieë (dus, vlieë in die familie Tephritidae).

Die oostelike vrugtevlieg (Bactrocera dorsalis) en die perskevrugtevlieg (Bactrocera zonata) word reeds elders in die wêreld as indringerspesies beskou. Kenners is bekommerd dat dié spesies ook probleme inhou vir die produksie en bemarking van vrugte in Europa. Die Mediterreense vrugtevlieg (Ceratitis capitata) raak ook toenemend ’n probleem, en is besig om selfs in die meer gematigde produksiegebiede van Europa ’n houvas te kry.

Kenners hoop dat hulle deur die FF-IPM betyds doeltreffende maatreëls sal kan instel om toe te sien dat hierdie spesies nie oorneem nie. Bestaande bevolkings sal buite seisoentyd, wat gewoonlik saam met belangrike fases in die insekte se ontwikkelingsiklusse val, uitgeroei word. Nuwe tegnologie word ontwikkel om te keer dat besmette vrugte ingevoer of verkoop word.

Daaronder tel die ontwikkeling van ’n sensoriese apparaat wat die reuk wat afgeskei word deur vrugtevlieglarwes binne-in besmette vrugte kan bespeur. Prosesse gaan ook ontwikkel word om die voorkoms van ontluikende bevolkings so gou as moontlik aan te meld. Hiervoor word geoutomatiseerde, intydse vangmetodes ontwikkel.

Rekenaar- en sagtewareprogramme wat data oor vliegbevolkings gebruik, sal ontwikkel word om doeltreffende biologiese beheerprogramme en ’n strategie vir vinnige reaksie te ondersteun.

“Baie van hierdie projekte maak staat op inligting oor die spesies se spesifieke fisiologie, verspreiding en vermoë om verskillende omgewingstressors te weerstaan. Ons span by die US sal ’n belangrike rol vervul deur hierdie soort inligting te help insamel. Ons sal studies doen op bestaande bevolkings wat in Suider-Afrika voorkom,” verduidelik prof. John Terblanche van die US se departement bewarings­ekologie en entomologie.

“Danksy ruim finansiering van die Europese Unie sal baie data ingesamel word. Ons Europese kollegas sal dit gebruik. Dit sal egter ook tot die beskik­king wees van ons eie plaaslike vrugte- en groentesektor wat planne moet maak oor hoe om vrugtevlieë te bestuur.”

Hy sê verskeie US-studente en nadoktorale navorsers sal opleiding in gesamentlike werksessies ontvang om met plaagbestuur in die landbousektor te help.

Die FF-IPM-projek is deel van die Horizon 2020-navorsings- en innovasie-aksieprogram. Dit word deur kundiges aan die Universiteit van Thessalië in Griekeland gekoördineer. Die projekkonsortium bestaan uit 21 navorsingsorganisasies en ander rolspelers uit tien Europese lande, asook Israel, Suid-Afrika, China, Australië en die VSA.

Vanuit Suid-Afrikaanse geledere is navorsers van die Universiteit Stellenbosch se departement bewarings­ekologie en entomologie en Citrus Research International (CRI) in Nelspruit betrokke. Aanvangstudies sal in agt verskillende lande, waaronder Suid-Afrika, uitgevoer word.

Die US se navorsingspanne sal onder meer betrokke wees by studies om te bepaal wat die minimum en maksimum omgewingstressors (byvoorbeeld in terme van temperatuur en voedselbronne) is wat spesifieke vrugtevliegspesies kan weerstaan. Hul vermoë om oor groot afstande te versprei, word ook bestudeer. Daar sal gewerk word aan genetiese profiel-metodes waarmee vrugtevliegspesies in die verskillende lewensfases makliker geïdentifiseer kan word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.