Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
WA Joubert vier 100 jaar

’n Laerskool in Paarl wat sedert 1919 bestaan, het ’n groot mylpaal in sy ryk geskiedenis behaal.

Die Laerskool WA Joubert, wat daarna streef om soos sy leuse “altyd hoër” te mik, is in Pleinstraat, Paarl, geleë.

Die skoolhoof Hennie Nel, vertel dat WA Joubert destyds gebou is as opleidingskool om aan die studente van die Onderwyserskollege Paarl (OKP) die geleentheid te bied vir praktiese onderwys.

Die skool staan vandag nog bekend as ’n baken van opvoeding wat steeds die gemeenskap getrou dien. Daar is altesaam 403 leerders by die skool met 23 perso­neel­lede.

Op die eerste skooldag van dié jaar was leerders en onderwysers slaggereed om die jaar se spesiale eeufees te vier.

Die geskiedkundige navorser Johann Claassen is deur die skool aangestel om die unieke geskiedenis van die skool vas te lê.

Volgens Claassen het die behoefte aan ’n eie “oefenskool” dringend geword. “Een wat na genoeg aan die nuwe perseel geleë was sodat die studente nie ver hoef te loop nie. Aanvanklik het die owerhede dit duidelik gemaak dat geld vir só ’n fasiliteit nie bestaan nie, maar op 26 Julie 1917 is ’n brief van die superintendent-generaal van onderwys ontvang waarin gemeld is dat £4 000 op die begroting geplaas is vir die daarstelling van ’n oefenskool.”

By die bou van die oefenskool is daar agtergekom dat daar nie genoeg kinders sou wees om die skool mee te begin nie.

“Gelukkig kon die probleem onder eie geledere opgelos word. Nie ver van die nuwe kollegegebou nie was ’n laerskool geleë met die naam van Noorder-Paarl Primêre Skool. Dit is gehuisves in die gebou wat nou bekend staan as Huis Vereniging en wat in ’n stadium gedien het as een van die manskoshuise van OKP,” vertel Claassen.

In 1918 het die skoolhoof van NP Primêre Skool afgetree en dit het ’n geleentheid geskep om dié skool by die nuwe oefenskool in te lyf.

In Januarie 1919 is WA Joubert as die hoof van die gekombineerde NP en die Oefenskool (soos dit daarna bekend gestaan het) aangestel.

Die skool het van krag tot krag gegaan en in 1947 was daar ’n behoefte om ’n eie naam, eie skoollied en vlag daar te stel.

Hierdie droom is Vrydag 5 Desember 1947 bewaarheid toe die herdoping op ’n luisterryke wyse gevier is op die terrein van die opleidings­kollege.

Die skool sou van toe af bekend staan as die WA Joubert-oefenskool.

Kort voor lank het dit geblyk dat die skool gereed is om onafhanklik te funksioneer met ’n eie skoolgebou en is daar begin soek na ’n nuwe terrein wat nie te ver geleë sou wees van die kollege nie.

Die hoeksteen vir die nuwe skool is op 23 Oktober 1953 deur WA Joubert gelê en op 25 November 1954 is die skool ingewy en in 1963 het die skool ook sy eie saal gekry wat later vernoem is na H.J. le Roux, ’n vorige hoof van die skool.

Wat WA Joubert spesiaal en uniek maak, is dat hy verkies om ’n kleiner skool te wees wat altyd daarna streef om te wil groei en hard te werk.

“Ons is ’n gedrewe skool en glo elkeen van ons by die skool moet ’n bydrae lewer en ’n voetspoor trap wat nooit toegevee kan word nie,” sê Hennie.

Behalwe dat die skool sport, kultuur en goeie gehalte onderwys bied, glo die hoof daarin om ’n gebalanseerde kind in die wêreld uit te stuur.

“Ons soek die uniekheid in kinders en mense en vier dit. Ons skool streef om ’n verskil in ’n kind se lewe, Paarl en die Wes-Kaap te maak,” verduidelik Hennie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.