Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wellington rou nadat fratsongeluk vrou eis

’n Gesellige tradisie het in ’n hartverskeurende tragedie vir ’n bekende gesin van Wellington ontaard nadat hul dogter in ’n fratsongeluk dood is.

Ivan de Villiers (61), ’n prokureur, vertel sy dogter, Adri-Marie (36), en sy vrou Sarie (65), het albei ernstige brandwonde opgedoen toe hulle Vrydag 31 Januarie met ’n metanol-gel, wat gebruik word om vuur te maak, gebrand het.

Sarie sterk in die Tygerberg-hospitaal aan waar sy ernstige brandwonde aan haar bolyf en arms opgedoen het, maar Adri-Marie het Maandag 10 Februarie tussen 04:00 en 05:00 aan haar beserings beswyk.

Dié vlambare gel is soortgelyk aan dié wat die bekende Pippie Kruger van Lephalale in 2011 gebrand het.

De Villiers sê hulle het potjiekos gemaak soos wat hulle al talle kere gedoen het. Die gesin gebruik ¼-grootte potjies wat op houtbordjies staan wat De Villiers gemaak het.

So kan elkeen dan sy of haar eie potjie met die beskikbare bestanddele maak. Dit werk op dieselfde beginsel as ’n fondue-ete waar elkeen sy eie potjie met ’n houertjie met die brandende gel maak.

Hy sê die gel brand ná ’n rukkie uit en dan hervul hy die houertjies met nog gel.

“Almal weet om hul vlam dood te blaas sodat ek dit kan vol maak. Ons is altyd so versigtig; ons weet die goed is vlambaar,” benadruk De Villiers. Hy verduidelik toe hy by Adri-Marie se vriend, wat oorkant haar gesit het, se houertjie gekom het, het die gel ontplof. Hy vermoed dit was weens ’n versteekte kooltjie in ’n filmagtige oorblyfsel in die houertjie of weens die hitte van die houertjie. De Villiers en van sy ander gaste het geringe brandwonde opgedoen, maar Adri-Marie was direk in lyn met die ontploffing.

Sy het 40% brandwonde oor haar bolyf en gesig opgedoen. “Ons het die ambulans gebel; hulle was vinnig hier en het haar dadelik behandel,” vertel hy. Sy en Sarie is na Mediclinic Paarl vervoer waar hulle op mediese advies eerder na Tygerberg-hospitaal oorgeplaas is vir spesialis-behandeling.

Volgens De Villiers kon hy tussen die ongeluk en die dag van sy dogter se dood met haar gesels en sê hy het haar intussen ook gevoer.

Hy is egter die Sondag in kennis gestel dat dit nie goed gaan met haar nie. “Haar organe het begin verswak en sy is dood aan skok,” sê De Villiers.

Adri-Marie was ’n geliefde inwoner van Sunfield Home in Wellington. De Villiers vertel as ses maande oue baba was sy in ’n ernstige motorongeluk waarin haar ma op slag dood is en sy breinskade opgedoen het. Haar mobiliteit was sedertdien aangetas en haar intellektuele ontwikkeling was gelykstaande aan dié van ’n 15-jarige.

“Sy kon ’n goeie gesprek voer,” vertel haar pa.

Elmarie van Schalkwyk, uitvoerende bestuurder van Sunfield Home, sê Adri-Marie was ’n sagte mens “met die pragtigste persoonlikheid, ’n groot geloof en ’n voorliefde vir sang”.

Sy was een van die hoofspelers in hul musiekblyspel Droom en was baie geliefd onder die inwoners, personeel en haar vriende.

Adri-Marie is reeds veras en ’n rou­diens word Vrydag 28 Februarie om 11:00 by die Sunfield Home vir haar gehou. • A family tradition ended in tragedy when a family in Wellington lost their daughter in a freak accident.

Ivan de Villiers (61) said his daughter, Adri-Marie (36), succumbed to her injuries after a methanol fire-lighting gel exploded over her upper body.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.