Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wellington-tiener sterf in ongeluk

Die gemeenskap van Wellington is geruk nadat Armand Carstens (19), ’n matrikulant aan die Hugenote Hoërskool, Donderdagaand 15 Oktober in ’n motorongeluk gesterf het.

Die ongeluk het omstreeks 23:40 plaasgevind op die hoek van Kerk- en Cummingsstraat in Wellington toe die bakkie waarin Armand en ’n vriend gery het, gerol het. Armand is op slag dood, slegs enkele dae voordat sy matriekeindeksamen sou begin.

Armand se pa, Cassie, was tot onlangs uitvoerende hoof van die Boland-rugbyunie voordat die gesin teruggetrek het na Kimberley van waar hulle oorspronklik afkomstig is.

Die tiener het egter in Wellington agtergebly om sy skoolloopbaan hier te voltooi. Hy het by familievriende op ’n plaas in die Perdeskoen gewoon. Die seuns was die aand van die noodlottige ongeluk onderweg na die plaas. Die skoolvriend se ma skryf in ’n Facebook-inskrywing: “Armandjie, jy het ons gesin voltooi en ons huis kom vol maak. Jy was ons derde seun en ons kon nie liewer vir jou wees nie. Jou plekkie aan ons tafel is leeg. [Ons] gaan jou drukkies mis.”

Armand word oorleef deur sy pa en ma, Matty, broer Casey en suster, Bianca Buys.

Arno Buys, Bianca se man, beskryf hom as ’n liefdevolle mensemens. “As hy by ’n plek ingestap het, het hy die hele vertrek opgehelder. Met sy groot glimlag was hy ’n gentle giant. Hy het soveel respek vir ander mense gehad en dit getuig van hoe sy ma en pa hom grootgemaak het.”

Armand het dit eens oorweeg om in ’n landbourigting te gaan studeer, maar het nog nie finaal daarop besluit nie. Hy het op ’n slag ook gepraat van verkope of regte. “Maak nie saak wat hy sou gedoen het nie, hy sou altyd ’n sukses daarvan gemaak het,” vertel Arno.

Armand was voorheen ’n leerder aan die Hoërskool Diamantveld in Kimberley. Hoewel hy hom eers in 2019 in gr.11 by Hugenote Hoërskool aangesluit het, het hy ’n groot indruk op die skool as ’n voorbeeldige seun gemaak.

“Sy humorsin, vriendskap en sportmangees was besonders,” skryf Hugenote Hoërskool op sy Facebook-blad. “Ons sal hom altyd onthou op al die terreine waar hy betrokke was in Hugenote. Ons medelye aan sy familie en vriende in hierdie baie hartseer tyd.”

Kol. Andrè Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die bestuurder, ’n 18-jarige man, is in hegtenis geneem, maar met ’n waarskuwing om op 7 April 2021 in die Wellington-landdroshof te verskyn, vrygelaat. Aanklagte van strafbare manslag, dronkbestuur en roekelose en/of nalatige bestuur word tans ondersoek.

’n Bloedmonster van die bestuurder is geneem, maar die uitslae daarvan is nog nie bekend nie. Aangesien hy nog nie in die hof verskyn het nie, mag Paarl Post nie sy naam publiseer nie.. The community of Wellington is shaken after Armand Carstens (19), a matriculant at Huguenot High School, died in a car accident on Thursday evening, 15 October. The accident took place at around 23:40 on the corner of Church and Cummings street in Wellington when the bakkie in which Armand and a friend were driving rolled.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.