PAARL - ’n Drie dae lange kamp en werksessie vir vroue wat uit mishandelde omstandighede kom, is dié week van Dinsdag tot Donderdag by die Mooi Bly-kothuise in Dal Josafat deur 1000 Women 1 Voice en Arise Women Circle aangebied.
Die doel van die samekoms was om die vroue te help om hul stories deur ’n pen te vertel. Die twee organisasies maak dit hul missie om vroue wat emosioneel as gevolg van geslagsgebaseerde geweld afgetakel is, te help opbou.
Louise Pietersen, stigter van Arise Women Circle, vertel sy het ’n paar weke gelede besluit om die Hear Me Too-werksessie te hou en wil dit in die toekoms graag verder neem.
“Ek het met Tina Thiart, die stigter van 1000 Women 1 Voice, gepraat en haar genader en besluit om ’n workshop met vroue te doen wat deur abuse was en nog steeds daardeur gaan.”
Pietersen verduidelik sy is geïnspireer deur haar verlede toe sy self mishandel is, en sy wil nou graag ander vroue ook help.
“Ek was ’n paar jaar terug ’n kliënt by die Ahos- [Athlone House of Strength] shelter en my genesing het begin deur te skryf.”
Die werksessie is deel van die projek Arise Women Circle Writing Retreat Camp.
Sy wil deur die kamp ook ’n bietjie tyd saam met die vroue in die natuur deurbring, aangesien dít is wat Pietersen gehelp het om haarself weer te vind.
Sy sê dit is nie altyd maklik vir vroue om hul stories van seer aan ander vroue oor te vertel nie. Dis hoekom die organisasies besluit het op die wegbreek, wat vroue sal help om stil te sit en eers hul stories van mishandeling aan hulself op papier te vertel voordat hulle dit met die res van die wêreld deel.
Die wegbreek en werksessie is die eerste van vele wat nog gehou sal word.
Vir meer inligting kontak Louise Pietersen by 079 179 6307.. A three-day camp and workshop for women who were abused and still find themselves in gender-based violence circumstances, was held from Tuesday to Thursday at the Mooi Bly cottages in Dal Josafat. The event was presented by 1000 Women 1 Voice and Arise Women Circle.