Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wette knak restaurante

Restaurante reg oor Suid-Afrika het Woensdag (22 Julie) saam as eenheid opgetree in ’n stille betoging oor hul ongelukkigheid oor hoe die afgelope paar maande se inperking hul ondernemings raak en die verbod om alkohol te verkoop.

Hier in die vallei het eetplekke van Wellington tot in Franschhoek ook hul stemme dik gemaak deur teen die huidige Covid-19-regulasies te betoog en die aandag op die bedryf se benarde posisie te vestig.

Hoewel die staat van inperking die bedryf reeds op sy knieë gedwing het, het die hernude drankverbod en aandklok – met geen einde nog in sig nie – talle restaurante tot knakpunt gedwing.

Die Restaurantvereniging van Suid-Afrika het sy lede aangesê dat betogings nie 15 mense per restaurant moet oorskry nie.

Elke deelnemende restaurant is gevra om ’n kennisgewing aan die plaaslike polisiekantoor te rig.

Die plaaslike en wêreldbekroonde sjef Reuben Riffel van Franschhoek het verlede Donderdag (23 Julie) met die Daily Maverick-joernalis Tony Jackman en die Ierse boorling sjef Liam Tomlin in ’n webinar wat op die kwessie gefokus het, in gesprek getree in ’n poging om oplossings te help soek.

Riffel sê hy volg baie internasionale nuus en hoe die pandemie die restaurantbedryf reg oor die wêreld beïnvloed.

Dit was vir hom veral baie bemoedigend om te sien hoe restaurante in plekke soos Italië weer kon begin handel dryf nadat dié land vroeër die brandpunt van die koronavirus was.

“Ek dink nêrens [in die wêreld soos hier in Suid-Afrika] word dit so moeilik gemaak om in ons bedryf handel te dryf of net toegelaat te word om ’n bestaan te probeer maak nie,” voeg hy by.

Volgens Jackman het die pandemie twee uiters gewenste uitkomste – aan die een kant wil die restaurantbedryf oorleef, maar aan die ander kant wil die bedryf hê die virus moet verslaan word om sterftes te beperk.

Hoewel Riffel nie ’n oplossing het vir die penarie waarin hy en talle ander restauranteienaars hulle bevind nie, sê hy dat hy wel ’n paar voorstelle het oor hoe hulle die situasie moontlik kan aandurf.

“Die werklikheid is dat ons nie vir ewig in die inperking kan wees nie. Hoe meer ’n mens oor hierdie virus lees [besef ’n mens] tensy ons ’n entstof kry, moet ons probeer om daarmee saam te leef.

“Ek wil graag hê almal moet herfokus op hoe ons in allerlei ondernemings daarmee gaan saamleef.”

Die gesprek het ook gelei tot die ongelukkige werklikheid dat baie eetplekke hul deure gaan moet sluit en baie mense sonder werk gaan sit. Riffel beklemtoon: “Minder mense sal na restaurante gaan, want hulle gaan minder geld hê om ons te kom ondersteun.”

Sjefs het intussen ander maniere gevind om nie net hulself besig te hou nie, maar kop bo water te hou deur ’n klein inkomste van die huis af te verdien. Selfs Riffel het begin om kos te maak en dit by kliënte se huise af te lewer.

Hy sê hy het vroeg in die inperking besef hy kan nie net by die huis sit en niks doen nie, maar moet eerder iets nuuts in die bedryf probeer.

Riffel het ook besluit om sy restaurante vir tyd en wyl gesluit te hou selfs nadat die president aangekondig het die bedryf kan sy deure heropen.

“Ons is nou in ’n situasie waar ons nie alkohol kan verskaf nie, en ons het natuurlik die aandklok en mense sal minder gemaklik wees om uit te kom. Ons het dus besluit om liewer toe te bly, en dit is wat nou gebeur.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.