Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ontspan
Die geboorte van pinotage

Een van die gevleuelde gesegdes wat aan die wynmaker Beyers Truter behoort is die een wat lui: Die laaste keer dat die Boere saamgestaan het was dit op die skip wat hulle na die krygsgevangenekamp op St. Helena geneem het – en hulle moes staan, want daar was nie plek om te sit nie.

Waar soos hierdie stelling in verskeie dele van die Suid-Afrikaanse samelewing heet, geld dit nie vir die wynmakers, boere en ander mense wat ’n passie het vir die pinotage-druifsoort nie. Trouens, dit was juis ’n klomp boere – 100 om presies te wees – wat in 1995 saamgekom en aangedring het dat ’n vereniging vir pinotage gestig word. Demokrasie het geseëvier, die stemme is gehoor. En vandag is die pinotage-vereniging een van nie net Suid-Afrika se mees bedrewe wyn-verenigings nie, maar ’n liggaam wat sy stem regoor die wêreld laat hoor, grootliks danksy die jarelange borgskap wat die vereniging van die pinotage-liefhebbende bank Absa kry

Goed. So waarom ’n vereniging? En waarom pinotage?

Eenvoudig: daar’s geen ander wyn soos pinotage nie, en ook nie ’n wyndruif met so ’n interessante geskiedenis nie. En o ja, dis als 100% Suid-Afrikaans.

Als het in 1925 begin toe die legendariese wyndruifkenner prof. Abraham Perold, toe verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch, op soek was na druifsoorte wat hul by Suid-Afrikaanse toestande kan aanpas. Prof. Perold sit toe en dink aan twee spesifieke kultivars. Die een, pinot noir, ’n klassieke en bloubloed kultivar waarvan die elegante wyne van Boergondië in Frankryk gemaak word. Die ander een wat hy in sy kop had, was hermitage, ook bekend as cinsaut. Hierdie geurige werkesel van ’n druif groei veral maklik in warm toestande, iets waarvoor pinot noir nie baie lief is nie.

Maar wat, het die prof gedink, sou gebeur as ons dié twee druifsoorte kruis om ’n nuwe kultivar te skep?

Dit het nie by dink gebly nie. Prof Perold het pinot noir en hermitage gekruis, en vier saadjies was die resultaat. Die is egter eers veel later geplant, en die eerste kommersiële pinotage is in 1959 gebotteleer.

Die res is geskiedenis.

Die hoogtepunt in elke jaar se pinotage-geskiedenis is die ABSA Top 10 Pinotage-kompetisie. Sedert 1997 word daar jaarliks honderde van Suid-Afrika se voorste pinotage-wyne deur ’n paneel kenners geproe. Uit ’n kortlys van die 20 bestes, word die Top 10 pinotage-wyne van elke jaar gekies in ’n unieke kompetisie wat sedert sy ontstaan moontlik gemaak is deur die entoesiasme en ondersteuning van Absa. Danksy Absa word die Top 10-wyne nie net aan Suid-Afrikaners bekend gestel nie, maar word die internasionale wyngemeenskap ook aan pinotage bekend gestel.

Vir diegene wat met die druif boer en van hom wyn maak, het pinotage ’n enigma geword, een waaraan hele loopbane gewy word op soek na nog beter maniere om naby aan die perfekte pinotage te kom.

En ons wat hom geniet, is danig vir die pinotage-dissipels. Hulle wyne proe soos geen ander rooiwyn op aarde nie. Dit is geskiedenis, kultuur en Suid-Afrika in elke heerlike glas.

Tjeers op pinotage, vir altyd.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.