Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ontspan
Fynproewers proe met Agri-Expo Landboureeks by die Woordfees


Elke streek, veral in die Wes- en Noord-Kaap, sal stry dat húl lamsvleis die heel lekkerste proe. 
My skoonsuster, wat ’n gesiene persoon in die kosbedryf is, prys die lamsvleis wat van Bredasdorp se wêreld kom. 
Die meeste Kapenaars pronk met hul Karoo-lam, maar selfs hierdie vleiseters sal dan ook oor ’n koue biertjie of glasie wyn aan die stry raak dat die lam wat hulle vanaf óf Carnarvon óf Williston óf Calvinia se wêreld en dies meer kry, die héél smaaklikste is. 
Want sien, in hierdie streke gaan jy immers die delikate geure van die unieke wilde Karoobossies proe waaraan die lammers en skape gesmul het. En boonop is hulle dan ook 100%-losloop-skape.
’n Paar jaar gelede toe ek juis oor lamstjops geskryf het en my stuk gegrond het op Karoo-lam, het ek lelik pak slae gekry van ’n Namakwalander wat gesê het dat jy die heel lekkerste lamsvleis in sý wêreld kry. Wel, hierna het ek talle kere by ’n oulike slaghuis op Springbok gestop en ’n paar lamstjops gekoop wat toe sommer kort voor die Oranjerivier se bodem gebraai is, net voor die grensoorgang na Namibië. En ek moet vir mnr. Namakwalandse Boer sê sy vleis ís bitterlik lekker.
Só kan ons maar stry oor ons familieplase se lamsvleis tot die son al ’n paar keer gesak en weer opgekom het, en die argumente gaan in elk geval nie gewen of verloor word nie.
Die feit van die saak bly dat ons skaapvleis – na my beskeie mening – ongelooflik lekker is. ’n Lekker vet tjop wat oor die kole gebraai is, is immers koningskos.
Die aanbieders van die Landbouproeë vir fynproewers by US Woordfees is van links, Johan Ehlers (Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo), Bennie Howard (Veritas), Bertus Basson (Overture, Spice Route en Sop en Bone) en Marina Bester (projekbestuurder van #SkaapvleisSA Healthy Meat).

Dus toe ek vandeesweek genooi is om die Agri-Expo Landboureeks by die US Woordfees op Stellenbosch by te woon om Merino-lamsboud vanaf verskeie streke te proe saam met Vertitas bekroonde rooiwyne, het ek maar my besige werkskedule op sy gesit en die pad gevat.
Top shef Bertus Basson van Overture, Spice Route en Spek en Bone, het heel skaapboude vanaf vier verskillende streke op presies dieselfde manier gaargemaak en sonder enige geurmiddels. Die streke was Hantam, Kamdeboo, Boland en Overberg.
Vier streke se lamsvleis is by die Agri-Expo fynproe geproe by die US Woordfees

Alhoewel ek al van te vore so ‘n proe, ook gelei deur Bertus, bygewoon het, bly dit baie interessant. Talle dink mos ‘n lam, is ‘n lam, is ‘n lam. Maar dit is eenvoudig nie so nie. 
Die Hantam vleis is eg Karoo. Dit subtiel bossie geur is daar maar nie oorheersend nie. Die Kamdeboo vleis is sigbaar effe donkerder en sy tekstuur is fyner. Maar hy is beslis byna wild in geur. Overberg se lam is kenmerkende effe soet en selfs parfuumagtig van geur, terwyl Overberg se lam ook lekker is, maar volgens my nie besonders nie.
En die Boland se lam staan hoegenaamd nie uit nie – ons is hier immers bekend as wynland en nie skaapland nie.
Terwyl Bertus beduie het van die verskillende skaap-streke, het Bennie Howard van Veritas die proeëry se wynproe gelei met vier verskillende wyne wat hy gekies het – elk om saam met een van die lams-streke te gaan. Baie interessant hoe sekere kultivars met sekere lam-streke gepaar het.
Tydens die US Woordfees, vanaf 2-11 Maart, bied Agri-Expo nog fynproewers proeë aan - Shiraz en wildsvleis, Carmién Tea en Kaas-en-Wyn met Charles Back.
Vir meer besonderhede gaan na Kaartjies is beperk en besprekings kan deur Computicket gedoen word of besoek of www.agriexpo.co.za vir meer inligting.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.