Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sake
Brandstofheffing dalk gou verby

Die brandstofheffing of belasting wat op elke liter petrol betaal word, is ’n belangrike inkomstestroom vir die regering, maar dié stroom kan in die nabye toekoms opdroog.

Só sê prof. Stephan Krygsman, ’n kenner in vervoerekonomie in die departement logistiek aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy doen navorsing oor die wyses waarop padgebruikers belas word en of dit doeltreffend is.

Krygsman sê hoewel die aantal voertuie op die land se paaie toeneem, kan die brandstofheffing, wat 5% tot die nasionale belastinginkomste bydra, binne tien jaar iets van die verlede wees. Die brandstofheffing is die vierde grootste bron van inkomste vir die regering naas inkomstebelasting, maatskappybelasting en BTW.

Krygsman sê die brandstofheffing bly gewild by die regering omdat dit ’n inkomstebron is wat nie maklik ontduik kan word nie. Dit is ook eenvoudig en maklik, en die administrasiekoste is baie laag. Dit is ook ’n billike belasting wat die koste van padgebruik weerspieël.

Maar, voeg Krygsman by, die brandstofheffing is waarskynlik uitgeput as ’n langtermyn volhoubare heffing vir padgebruikers en word toenemend onproduktief namate die brandstofdoeltreffendheid van voertuie toeneem en meer elektriese en hibridiese motors vervaardig word.

“In 2000 was die brandstofheffing op 100% produktiwiteit, maar sedertdien het produktiwiteit ongeveer 1,1% per jaar afgeneem. Teen 2040 sal groter brandstofdoeltreffendheid die brandstofbelasting met byna 48% per voertuig verminder.

“Elektriese voertuie kan die einde van die brandstofheffing verhaas. Hulle gebruik minder of geen brandstof, wat ’n laer brandstofverbruik per kilometer tot gevolg het. Dit beteken die brandstofheffing sal afneem.

“Na raming sal elektriese motors teen 2040 sowat 30 tot 40% van die wêreld se twee miljard motors uitmaak. Tesame met die verhoogde brandstofdoeltreffendheid van binnebrandenjins sal dit ’n besparing van miljoene vate olie per jaar teweegbring – en natuurlik ook besparings in brandstofheffings en belasting.”

Krygsman sê dit is belangrik dat Suid-Afrika nou optree en alternatiewe maniere vind om die geld vir die bou en instandhouding van paaie te genereer.

Krygsman sê ’n kilometer-gebaseerde heffingstelsel vir padgebruikers kan een van die maniere wees om die brandstofheffing te vervang.

“Wat dit beteken, is dat padgebruikers betaal vir die afstand wat hulle ry. Hulle betaal per kilometer en kry ’n rekening aan die einde van die maand.

“Dit sal deur middel van ’n globale posisionering stelsel (GPS) moontlik wees om verskillende soorte voertuie te volg om vir werklike padgebruik te hef. Die heffing sal gegrond wees op die afstand wat afgelê is, die soort voertuig (byvoorbeeld groot of klein voertuie), die voertuig se gewig, die tyd van die dag en waar gery word (byvoorbeeld stede of landelike gebiede). Hierdie data sal dan deur middel van ’n sellulêre netwerk oorgedra en gebruik word om die bedrag wat elke padgebruiker sal betaal, te bereken.

Krygsman voeg by dat in ’n afstand gebaseerde stelsel die voertuig se brandstofdoeltreffendheid nie die heffing sal beïnvloed nie en almal sal betaal volgens die kilometers wat hulle afgelê het en die soort voertuig wat hulle ry.

Krygsman sê voordat so ’n stelsel in werking gestel kan word, moet verskeie kwessies soos privaatheid en etiese oorwegings, gebruikers se behoeftes, tegniese vereistes van die stelsel en die rol van die regering, en so meer, eers die hoof gebied word.

Baie navorsing word internasionaal gedoen en verskeie veldtogte is reeds aan die gang.

In sommige lande is afstand gebaseerde en gewigsheffings reeds ingestel.

“Ons moet ’n ander manier vind om te betaal. Mense raak al hoe meer agterdogtig oor die brandstofheffing, en die brandstof wat motors gebruik sal dalk nie in die toekoms beskikbaar wees nie, dus moet ons met nuwe alternatiewe vorendag kom.”

. Dr. Alec Basson is ’n senior wetenskapskrywer aan die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.