Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sake
Groot landboukrisis dreig

“Eskom se fase-6-beurtkrag wat verlede Maandagaand van 18:00 tot 22:00 ingestel is, het die Suid-Afrikaanse ekonomie onkant betrap,” sê Nicol Jansen, voorsitter van Agri SA se sentrum van uitnemendheid: ekonomie en handel.

“Die jongste ronde beurtkrag kom op ’n besondere besige tyd vir produsente en landbou-ondernemings.”

Beurtkrag het ’n negatiewe uitwerking op energie-intensiewe en besproeiing-afhanklike bedrywe van landbou – regdeur die hele ketting van die plaashek tot in die verbruiker se huis. Handhawing van die koue-ketting is krities om gehalte van voedsel en rakleeftyd te verseker.

Die tafeldruiwe- en varsproduktebedrywe is spesifieke voorbeelde waar beurtkrag in die spitsseisoen ernstige gevolge vir die landbou inhou.

“Alle pakhuise en koelkamers is afhanklik van elektrisiteit,” sê Willem Bestbier, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Tafeldruiwebedryf (SATI), ’n lid van Agri SA se bedryfskamer.

“Die produk is hoogs bederfbaar, en handhawing van die koue-ketting- en ’n lae-temperatuur-regime vorm deel van formele en wetlik bindende internasionale fitosanitêre maatreëls. Temperatuur-onderbrekings in die fitosanitêre verskepingsprotokol kan produkte vir uitvoerdoeleindes diskwalifiseer. Pakhuise is uiters arbeidsintensief en duisende werksgeleenthede en bruto-uitvoerverdienste van meer as R7 miljard op plaasvlak is onmiddellik in gedrang,” sê Bestbier.

Jacques Jordaan, die uitvoerende hoof van die Inmaakvrugte Produsente Vereniging (IVPV), ’n lid van Agri SA se Bedryfskamer, sê vrugte is tans in verskillende rypwordingsfases en optimale waterbestuur is krities. “Kragonderbreking het ’n regstreekse uitwerking op waterbestuurspraktyke in boorde en watertekorte kan in baie gevalle nie later reggestel word nie. Gevolglik word kleiner vrugte geproduseer, wat ’n verlies aan inkomste vir die hele waardeketting inhou,” waarsku Jordaan.

Jansen voeg by: “Beurtkrag kan verder ook ’n negatiewe uitwerking op BBP-groei hê, soos ons vroeër vanjaar gesien het. In ag genome Eskom se onlangse RCA-tariefaansoek (R27 323 miljoen), is die las van beurtkrag selfs meer onaanvaarbaar. Ekonomiese groei en werkskepping vir alle Suid-Afrikaners is uiters belangrik,” beklemtoon hy.

Landbou is bereid om saam met die regering te werk om planne te implementeer tot voordeel van die Suid-Afrikaanse ekonomie.

“Ons het ‘n verskeidenheid groenkragoplossings vir die energiekrisis in Suid-Afrika en sal graag wil sien dat Eskom saam met ons werk om die energievoorsienings­netwerk met onder andere son- en windenergie te diversifiseer,” sê Jansen.

“Dit is in belang van die hele land om die energiekrisis in die kort-, medium- en langtermyn op te los.”• The agricultural sector is facing a crisis if Eskom continues with non-delivery.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.