Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sake
Nuwe wyndruifklone by Vititec geproe

Vititec, die toonaangewende verskaffer van hoëgehalte-wingerdplantmateriaal, het verlede week ’n proe van die nuutste beskikbare wyndruifklone in die Suid-Afrikaanse wynbedryf by Vinpro se hoofkantoor in die Paarl aangebied.

Vanjaar is sowat 20 nuwe en bestaande wyndruifklone deur ’n groep wynmakers en produsente uit die bedryf asook uitgesoekte media geproe en beoordeel.

Van die opwindende nuwe druifsoorte en klone sluit in grüner veltliner, vermentino, macabeau en xynomavros.

Vititec produseer jaarliks tussen 50 en 60 eksperimentele wyne op klein skaal by die Universiteit Stellenbosch.

Charles Visser, ’n Vititec-wingerdboukundige, sê die beoordeling word volgens ’n spesiale proekaart gedoen ingevolge belangrike kriteria waaronder gehalte en intensiteit van geur, en of dit tipies van die druifsoort is. “Die chenin blanc moet soos chenin blanc smaak.”

Bekendstelling van klone

Vititec het in 2017 ’n klonetuin by sy hoofkantoor in Paarl gevestig waar sowat 255 verskillende jong wyndruifklone besigtig kan word.

Die klonetuin skep die geleentheid om nuwe wyndruifklone en druifsoorte aan die bedryf bekend te stel.

“Ons brei voortdurend ’n genepoel van druifsoorte uit vir produsente en wynmakers om uit te kies,” sê Charles. Hy sê dit is ook belangrik om te bepaal hoe goed ’n druifsoort in sekere gebiede vaar.

Vititec werk in noue genootskap met die Gen-Z-wingerdprojek om wyndruifklone in verskillende gebiede te plant. Die Gen-Z-wingerdprojek is ’n bedryfsinisiatief wat deur Vinpro se wingerdkundige konsultasiediens koördineer word. Die doel van die projek is om die nuutste tegnologie, navorsing en praktyke na verskillende streke oor te dra deur proefpersele te vestig en die resultate met die bedryf te deel.

Waardevolle terugvoer

Volgens Charles bied die kloneproe ’n geleentheid vir wynmakers om aan te dui of hierdie wyne kommersiële waarde inhou.

Dit bied ook die geleentheid om spesifieke klone te evalueer en vas te stel of die kenners van die bedryf glo dat die kloon vir Suid-Afrika se terroir geskik is.

“Die terugvoer uit die bedryf self is broodnodig en rigtinggewend. Hoewel dit ’n lang proses van invoer tot produksie is, is die belangstelling in spesifieke klone en druifsoorte ’n goeie aanduiding of die plantmateriaal vermeerder moet word,” sê Charles.

Die grenache noir, vermentino en macabeau het in die kloneproe uitgeblink.

Die onafhanklike wingerdkundige Marko Roux sê die grenache noir- kloon 513 is veral ’n belowende kultivar, aangesien hierdie druifsoort wingerdboukundig aan al die vereistes voldoen en die druiwe mooi wyne lewer.

“Dit bied weerstand teen droogte en wind, groei baie goed en gee goeie opbrengste,” sê hy.

Marselan bied egter groter weerstand teen siektes as die grenache noir. “Dit sal interessant wees om op kommersiële skaal aan te plant,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se konsultasiediens.

Hy het die pinot noir-klone wat te proe aangebied is, geniet en sê kloon 943 kan ’n interessante bydrae tot die wyn in die Elgin-streek lewer.

Vititec voorsien meer as 95% van die bostokplantmateriaal en nagenoeg 50% van die onderstokplantmateriaal aan die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.