Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sake
Terugblik op 2019

Vanuit ’n ekonomiese oogpunt was 2019 ’n wipplankjaar met verskeie hoogte- en laagtepunte wat sakevertroue onder druk geplaas het en belegging in nuwe sakeondernemings teruggehou het.

Nielewensvatbare politieke oplossings op nasionale vlak – wat aan ekonomiese kwessies gekoppel is onder die dekmantel van regstelling – was aan die orde van die dag en sal moontlik verder negatiewe uitkringende ekonomiese gevolge hê sowel plaaslik as nasionaal.

Dit takel die vryemarkstelsel af, versuur rasseverhoudinge en versteur harmonie en eenheid in Suid-Afrika. ’n Gerespekteerde Suid-Afrikaanse leier het eens opgemerk: “Hoede af vir die verlede en moue op vir die toekoms.” Dít is vandag weer eens van toepassing.

Dit was onder meer ’n afgryslike jaar vir ondernemings in staatsbesit (SOE’s) wat nou in krisisbestuur is, maar wat steeds vir die volgende drie tot vyf jaar geweldige stremming op die fiskus en belastingbetalers se finansieringsbronne gaan plaas.

Werkloosheid wat mense uitsigloos laat, hou aan groei en ekonomiese groei was reeds aan die einde van 2019 gevaarlik naby aan zero.

Die gevolge van die beperkings wat die plundering van die staatskas deur korrupsie en swak beleid teweeggebring het, sal ook nog lank by Suid-Afrika spook.

Dít alles plaas ’n vraagteken agter die regering se leierskaps­vaardighede (plaaslik en nasionaal) en die politieke wil om ekonomies gegronde besluite ter wille van die land se ekonomie en al sy mense te neem. Beleidsonsekerhede wat die bogenoemde swak bestuur tot gevolg het behoort dringend aangepak te word om sakevertroue te herstel sodat Suid-Afrika weer op ’n groeipad kan kom.

Aan die positiewe kant is daar ekonomiese aanwysers soos die lae inflasiekoers, positiewe betalingsbalans en die rand-wisselkoers wat binne verwagting presteer, wat aandui alles nie verlore is nie. Die huidige wisselkoers maak plaaslike vrugte-uitvoere kompeterend en toerisme bekostigbaar.

Volgens die RMB/BEN se sakevertroue-indeks vir Suid-Afrika het die indeks tot onlangs nog tot ’n 20 jaar-laagtepunt gedaal, maar gedurende die vierde kwartaal van 2019 weer opwaarts begin klim.

Hierdie mengsel van goeie resultate gekoppel aan ernstige teleurstellings aan die politieke front maak sakerisiko-analises moeilik en sal aanhou om nuwe investering terug te hou tot nadeel van almal in Suid-Afrika.

Inklusiewe en doelgerigte leierskap deur die regering en die beskermhere (Captains of Industry) van die private sektor is die enigste oplossing vir die omkeer van ons ekonomie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.