Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Franschhoek laat Tiere les opsê

Die Dal Josafat-stadion in Paarl was Saterdag 4 Augustus weereens in blou, wit en rooi getooi deur geesdriftige ondersteuners van die Franschhoek-rugbyklub wat teen Young Peoples (Tiere) van Paarl te staan gekom het.

Ná ’n oortuigende oorwinning van 38-0 in die guns van Franschhoek se onoorwonne tweede span, was die tafel gedek vir ’n titaniese stryd tussen die eerste spanne. Peoples het die bal reeds met die afskop lug gegee, wat Franschhoek se verdediging op die proef gestel het, maar met balbesit wat vinnig omgekeer is, het die besoekers gewys hoe gevaarlik hulle kan wees.

Die tuisspan het ’n strafskop binne trefafstand afgestaan, maar Franschhoek se losskakel het skeef gekorrel pale toe. Hierna het Peoples ’n groter fout begaan en die bal direk in Franschhoek se kookwater-vleuel, Anthony Adonis, se hande geskop wat die vlugvoetige Diego Jacobs vir die eerste drie van die wedstryd oorgestuur het.

Edwin du Preez het die bal dié keer netjies tussen die pale deurgeklits en die besoekers het die voortou 7-0 geneem. Kort hierna het Adonis weer hakskene vir die verdedigers gewys en Franschhoek se tweede drie gedruk. Du Preez het oorgeskop en die manne in die Franse kleure was 14-0 voor.

Al twee spanne se voorspelers het goed onder mekaar ingeklim, maar die flank van Franschhoek, Lesley Blankenberg, is ná ’n gevaarlike hoogvat koelkas toe gestuur. Die tuisspan het die een aanval ná die ander afgestuur en uiteindelik deur Franschhoek se

14-man-verdediging gebreek. Die telling was halftyd 14-7.

14-man-verdediging gebreek. Die telling was halftyd 14-7.

Die tweede helfte het klipharde duikslae en puik hardlooprugby opgelewer. Franschhoek se stormram-agsteman, Darren Jacobs, was telkemale ’n doring in die vlees van Young Peoples met sy kragtige lopies. Agterlangs het Du Preez en Justin Morgan met goeie aanvallende spel gewys waarom ervaring nie gekoop kan word nie. Franschhoek se pak voorspelers het die botoon gevoer en goed in die vaste fasette gevaar. Die haastige Adonis het ná ’n goeie skrum weer die bal gekry en die plaasvervangerskrumskakel Clarence Riffel vir die besoekers se derde drie oorgestuur. Die doelskop was onsuksesvol en die telling 19-7. Hierna het Franschhoek se plaasvervangers ’n beduidende impak gemaak met Winfred Nicolls en Charles Williams wat Young Peoples laat bontstaan het. Franschhoek het egter sy voet gelig en die weg vir Young Peoples se tweede drie gebaan. ’n Suksesvolle doelskop het die telling tot 19-14 laat styg. Die laaste paar minute was spannend aangesien die wedstryd enige kant toe kon swaai. Franschhoek het verskeie geleenthede om pale toe te korrel van die hand gewys op soek na ’n bonuspunt-drie. Goeie verdediging het hulle egter verhinder en die plaasvervanger-losskakel, Wilbur Boonzaaier, het die wedstryd vir die besoekers met ’n suksesvolle strafskop vir ’n eindtelling van 22-14 in die guns van Franschhoek beklink.

Franschhoek se getroue ondersteuners verdien ’n pluimpie omdat hulle elke wedstryd soos ’n tuiswedstryd laat voel.

Hierdie Saterdag reis die manne in blou, wit en rooi vir oulaas na hul buurdorp om die gedugte span van Paarl die stryd aan te sê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.