Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Paarl oorkom ‘Franse’ aanslag

Die Paarl-rugbyklub het Saterdag 11 Augustus teen Franschhoek RFC in ’n volgepakte Dal Josafat-stadion te staan gekom om te bepaal wie die voorpunt in vanjaar se WP Super Liga B-kompetisie gaan neem.

Die Paarliete is op Dal Josafat se C-veld met uitstekende weersomstandighede om rugby te speel geseën en is deur hordes Franschhoek-rugbyliefhebbers wat op die Paarl toegesak het, begroet.

Die wedstryd het afgeskop met Franschhoek wat meer lus gelyk het vir die besigheid en die skerpskutter Edwin du Preez het ’n strafskop vlak voor die pale oorgeklits.

Franschhoek het die Paarliete weer onder druk geplaas, maar die X-faktor, Wilfred Bouwers, het ander idees gehad en ’n onderskepdrie uit sy eie 22 m-gebied briljant met ratse vaart afgerond.

Franschhoek het weer die voortou met drie onbeantwoorde strafskoppe deur Du Preez geneem, maar dit was die Paarl se sumo-senter, Aulante Losper, wat soos ’n besetene gespeel het.

Losper het male sonder tal deur die Franse se verdedigerlyn gebars en duikslae uitgevoer wat die biesies laat bewe het. Dit was nie sonder sy krag en vasbeslotenheid dat Danwel Demas een van die maklikste drieë van sy roemryke loopbaan kon druk nie. Aulante is ook as speler van die wedstryd aangewys.

Voor rustyd het Paarl se losskakel, Frederick Muller, met ’n strafskop geslaag, maar dit was die manne van Franschhoek wat die voortou geneem het met ’n goeie spandrie wat uiteindelik deur die flank Darren Jacobs gedruk is.

Die tweede helfte het vuurwerk van al twee spanne opgelewer en die Paarliete het meer aanvallend en honger vir drieë gelyk.

Die oud-Boland-senter P.J. Vermeulen het sy teenwoordigheid laat voel met dartelende lopies en hy is met ’n drie in die linkerhoek beloon wat Muller met gemak verdoel het; 20-16 vir Paarl.

Franschhoek, met die ondersteunende rol van die skare, het teruggeveg en deur die Paarl-muur gebreek toe Anthony Adonis ’n drie gedruk het (doelskop was oor). Die mededinging sou altyd tot die bitter einde duur; telling 20-23 vir Franschoek.

Paarl se kaptein, Oswald Thomas, het ’n briljante spanpoging afgerond en sy span met ’n drie in ’n wenposisie geplaas; eindtelling 25-23 vir Paarl.

Paarl se tweede span het ook die mas opgekom en weereens die diepte by Paarl-rugbyklub ten toon gestel toe hy Franschhoek 27-20 geklop het.

Paarl se talentvolle groep o.20’s sal terugkyk en wonder waar hulle kan verbeter nadat hulle 13 elk gelykop gespeel het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.