Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Prima fietsry verwag by Boxing Day-sportdag

Suid-Afrika se voorste fietsryers sal in die Paarl in aksie wees wanneer die 119e Boxing Day-sportdag op Maandag 26 Desember plaasvind.

Hierdie geskiedkundige sportdag, wat ’n jaarlikse instelling in die Paarl is sedert 1897, beloof om weereens ’n prettige byeenkoms te wees en toeskouers kan opwindende fietsry verwag.

Dit word erken deur die Wêreld Fietsry Beheerliggaam as die langste aaneenlopende baanfietsrybyeenkoms in die wêreld en lok jaarliks die beste baanfietsryers in die land asook ongeveer 4 000 toeskouers.

Dit is dan ook die baanfietsbyeenkoms met die grootste prysgeld in Suid-Afrika en vanjaar is daar R85 000 op die spel.

Wedrenne word vir kategorieë van o. 10 tot veterane en vroue aangebied, maar die hoofwedrenne sal die 1 myl-uitnodiging en die 25 myl wees.

Behalwe die prysgeld en prestige om die 25 myl te wen, neem ryers ook deel om die Minnaarbeker om hoog te hou, tesame met die A.W. Basson-beker wat vir die beste prestasie vir die dag oorhandig word.

Die 1 myl-uitnodiging gaan ook ’n skouspel wees want die land se vinnigste ryers neem deel.

Die Paarl-toeskouers se gunsteling Nolan Hoffmann, wat vir die afgelope ses jaar agtereenvolgend die Boxing day-wedren gewen het, neem weer deel.

’n Nuwe wedren hierdie jaar is die Keirin-uitnodigingswedren, waar ryers met ’n motorfiets begelei word en die laaste rondte op hul eie jaag. Hierdie wedren is ’n vinnige en gevaarlike wedren wat toeskouers op hul voete sal hou.

Wedrenne vir veterane word ook aangebied, asook vir ouderdomsgroepe van o. 10 tot o. 16.

Die byeenkoms word moontlik gemaak deur Paarl Amateur Atletiek en Fietsryklub in samewerking met Drakenstein-munisipaliteit asook Alfa Bodyworks en Kroff Cycles.

Die byeenkoms vind by die Faure-stadion plaas en hekke open reeds om 11:00.

Wedrenne begin 13:30 terwyl die 25 myl om ongeveer 17:00 sal afskop.

Toegangsgeld is R50 vir volwassenes en R30 vir kinders.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.