Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Só vaar Boland-gholf in Covid-19

Die Covid-19-pandemie en die inperk-reëls wat daarmee gepaard gegaan het, het die gholfbedryf onder geweldige druk geplaas.

Die president van die Boland-gholfunie (BGU), George Bezuidenhout, gee ’n oorsig van die uitdagings wat Covid-19 vir die Boland-unie en sy klubs meegebring het asook hoe die BGU die krisis aangepak het. Die invloed op klubs en die BGU se ondersteuning:

Die BGU se uitvoerende komitee het vroeg in die begin van die pandemie die besluit geneem om aan provinsiale toernooie te onttrek en eerder die geld in die klubs terug te ploeg.

Dit het net nie sin gemaak om deel te neem aan elite-toernooie terwyl klubs diep in die knyp was nie. Hierdie besparings en van die vorige jaar se surplus is gebruik om Covid-19-toelae aan klubs te betaal. Die betalings is met groot dank deur klubs aanvaar.

Klein en groot klubs het die voordeel van hierdie toelae ontvang, want hoewel kleiner klubs minder reserwegeld het, het groter klubs baie hoër kostes.

Die geluk by die ongeluk is dat GolfRSA uiteindelik alle provinsiale toernooie gekanselleer het en ons spelers het dus nie “uitgemis” nie.GolfRSA se rol om sport weer vir deelname oop te stel:

GolfRSA het ’n massiewe en leidende rol in die terugkeer van die meeste nie-kontaksporte op vlak 3 gespeel. Ander sportliggame het na gholf vir leiding gekyk in die onderhandelings met die minister van sport.

Daar is ook gereeld gekommunikeer om lede op hoogte te hou van verwik­kelinge.

Ons is bewus van baie spelers/klubs wat gefrustreerd was met die proses, maar deurdat die korrekte prosedure gevolg is, is die regte resultaat opgelewer.Nuwe lede sluit aan:

Dit wil voorkom of die meeste klubs ’n hele aantal nuwe lede bygekry het met die heropening van bane.

Aanvanklik het klubs slegs lede toegelaat om te speel en dit het ’n rol gespeel, maar ons sien elke maand nuwe lede en hoor van bane met ’n rekordgetal rondtes. Dit blyk landwyd die geval te wees. Niemand verstaan presies die rede hiervoor nie, maar die feit dat daar geen kontaksport gespeel word nie moet ’n bydraende faktor wees, want baie van dié mense speel nou gholf.

Hierdie spelers is meestal 25-35 jaar oud en ek glo klubs moet maniere vind om hulle vir gholf te behou – soos verlaagde lidmaatskapgeld. BGU en klubs is vennote:

Die BGU se uitvoerende komitee het vir ’n aantal klubs, wat ernstig in die knyp was, soveel grasie moontlik gegee om affiliasiegeld wat hulle van hul lede ontvang het, aan die unie oor te betaal.

Dit is verblydend dat al ons klubs nou hul affiliasiegeld aan die BGU oorbetaal het en dit blyk dat ons nie een klub “verloor” het weens die pandemie nie.

Die meeste klubs moes egter drastiese stappe neem om te bespaar soos onder meer afleggings en salarisverlagings.

Daar is ook goeie nuus en een daar­van is dat klubs weer drank kan ver­koop asook spysenieringsdienste kan verskaf.

Veral van ons plattelandse klubs moet verheug wees dat hulle weer drank kan verkoop aangesien dit vir hulle ’n bron van inkomste is.Die lesse wat geleer kan word:

’n Groot deel van ’n hele aantal klubs se inkomste was in die verlede afkom­stig van toeriste – veral oorsese toeriste. Indien die land se grense nog vir ’n lang tyd gesluit gaan wees vir oorsese toeriste, sal klubs ander strategieë moet bedink om inkomste­bronne te ontgin.

Ek glo ook dat klubs ernstig sal moet besin oor die produk (baan) wat hulle lewer. Is die kostes die produk werd? Moet setperke elke dag gesny word? Moet skoonvelde lowergroen wees? Het die baan so baie sandkuile nodig ens.Nuwe BGU-projekte wat beplan word:

Die BGU se uitvoerende komitee het ’n hele aantal nuwe en interessante projekte wat hulle beplan wat aan lede in die Boland gekommunikeer sal word. Die een waaroor ek die mees opgewonde is, is ons liga-eindstryd volgende jaar op Pearl Valley wat alle ligas (onder meer die Baklei- en Nelson-ligawenners) sal betrek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.