Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Young Peoples ry Rangers bloots

Young Peoples het Paarl Rangers Saterdag (14 Maart) op Evergreens Park in ’n vriendskaplike wedstryd met 34-10 geklop.

Hoewel die derby sewe drieë opgelewer het, het dit ’n rukkie geneem voordat die skare opwindende rugby kon aanskou.

Albei spanne het vroeg in die wedstryd basiese foute gemaak. As dit nie ’n Peoples-speler was wat die bal vang en per ongeluk met sy voet op die kantlyn trap nie, was dit die Rangers-haker wat die bal by die lynstaan verby al twee sy springers ingooi.

Nietemin was dit Peoples wat sy foute eerste kon regstel. Sy linkervleuel, Byron Walters, het ’n goeie agterlynbeweging afgerond om die eerste drie aan te teken. Garren Kulsen kon egter nie met die doelskop slaag nie en die telling was 5-0.

Rangers het homself onder groot druk geplaas toe sy kantlynskop oor die doodlyn gerol het.

Peoples het in Rangers se kwartgebied geboer en later kon Rangers nie Oswald Thomas keer toe hy oor die lyn vir sy span se tweede drie gestorm het nie. Garren het met die doelskop geslaag en die halftydtelling was 12-0.

Ná rustyd het Lee-Grant Fortuin van Rangers deur ’n halwe gaping deur die lyn gebreek en sy span op die voorvoet geplaas. Die agterlyn het toe die bal na sy regtervleuel, Sipho Mbobosi, gestuur en hy het Peoples se laaste verdediger aan die buitekant geklop en Rangers se eerste drie gedruk. Die doelskop was onsukses­vol en die telling 12-5. Die Tiere het egter bly terugveg en uiteindelik kon die plaasvervangervleuel, Anwar Kermis, met die eerste raak aan die bal oor die lyn gaan en ’n drie druk. Die doelskop was mis en die telling het tot 17-5 in Peoples se guns aangeskuif. Later het Peoples sy agterlyn rondge­skommel waarna Shahied Ladouce oor is vir ’n netjiese drie. Die doelskop was hierdie keer suksesvol en Peoples het sy voorsprong tot 24-5 gerek.

Twee agtereenvolgende drieë van Peoples het die telling tot 34-5 laat aanskuif waarna Rangers egter gewys het hy gaan nie bly lê nie en teruggeslaan het met ’n drie om die telling 34-10 te maak.

Hoewel Mikhail Williams van Peoples met ’n geelkaart afgestuur is, kon Rangers nie munt uit die voordeel slaan nie. Die wedstryd het met 34-10 geëindig. Peoples het ook skoonskip gemaak uit die tweede en derde spanne se wedstryde wat hy onderskeidelik met 35-0 en 45-12 gewen het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.