Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Ek word ge-‘crush’ soos ‘candy’ op Metro-trein

Uitasem kom ek op die stasie aan.

“Good morning, MetroPlus, please,” vra ek die vrou wat op haar foon sit en candy crush speel.

As daar ’n emoticon moes wees vir ’n vraagteken, was dit die gesigsuitdrukking wat die vrou my gee.

“First class or third class?” word ek teruggevra.

Ek sê dit nie vir haar nie maar dink “Liewe George, help vir Henna vanmore.”

“What time is the train; are there any delays?” wil ek weet voor ek loop.

Heel ergerlik word ek geantwoord: “Bhuti, it’s coming; just wait.”

Saam met die horde ander pendelaars staan en wag ek maar in die koue, want hier is nie eens sitplek nie.

Die antie langs my vertel vir haar vriendin sy staan al amper 40 minute en daar was nog nie eens ’n poging van ’n aankondiging nie. Ek twyfel of ek haar gaan vra of Candy Crush gaan weet.

Lot se vrou het in ’n soutpilaar verander van omkyk; ek gaan in ’n ysblok verander van stilstaan in die koue.

Ná 20 minute se gewag kom ’n trein.

“Hou jou sak styf vas,” hoor ek iemand sê en daar duik sy in ’n skrum om in die trein te kom teen ’n groep wat skrum om uit te kom.

Van ordentlik inklim moet ek maar staan. Dis ook duidelik die trein het ’n oopdeurbeleid. Dit voel of ek agterop ’n oop bakkie sit en teen ’n hoë spoed deur die strate jaag. Dit is dalk pret as jy jonger is, maar waar ek staan is dit nie net gevaarlik nie – dit is yskoud.

Ek probeer rondom my kyk en almal is elkeen in sy eie wêreld.

’n Groep skoolkinders sit in die hoek, en ’n groep vroue staan en praat oor die een of ander ding by die werk. Ek kan nie lekker uitmaak nie, want almal praat gelyktydig. Ek is selfs onseker of hulle met mekaar gesels of elkeen in sy eie hoekie.

Hier aan die ander kant lag ’n groep vroue oor ’n ding wat by ’n party gebeur het. ’n Meisie wat mense net stip dophou en nie eens haar oë knip nie, begin smile. Ek is nie seker of sy vir my smile of vir die joke wat die vroue vertel het nie. Dalk smile sy net want sy voel goed.

Ek skrik my amper in ’n ander bloedgroep in toe ’n treinprediker skielik sy verskyning maak. Metdat kerke deesdae so leeg is, is dit seker sinvol dat die prediker hom op oorvol treine bevind. Ek’s net nie seker hoe geskok ek moet wees dat daar selfs ’n kollekte is nie.

Ons trein gaan staan skielik tussen stasies en die prediker sak af: “Dis nou tyd, my liewe vriend – maak jou saak reg. God delay selfs vir Metrorail sodat jy jou saak moet regmaak.”

Ek wou eers sê ek twyfel of dit die een of ander divine intervention is, maar dit lyk nie of enigeen na die preek luister nie.

Die trein is net buite die volgende stasie en ’n groot groep mense staan op. Ná 40 minute se gestaan kry ek ’n sitplek. Wel, dit was ’n sitplek voordat dit stukkend gesny is.

My gedagtes word onderbreek deur mense wat by die treinwa instorm. Toe ek my kop lig, sien ek ’n outjie inhardloop. Goeie herder, as die deur aan die anderkant oop was het hy uitgehardloop!

By Bellville klim nogal baie mense in, maar baie uit ook. Dié wat inklim dra kort moue en hulle laat my wonder of ek die weer verkeerd verstaan het.

Vir ’n oomblik dog ek ons staan nog, maar ons beweeg – net teen ’n baie stadige pas. Ek is seker ek kan vinniger loop as wat ons nou beweeg.

Soos die trein stop, klim net meer mense in en minder uit. Party hang nou selfs buite; ander hang weer met die helfte van die lyf binne en die ander helfte buite.

Die meisie langs my sien hoe ek my sit en verkyk en sê: “Hulle weet nie wanneer kom die next een nie, so jy vat maar wat kom.”

Skielik kom die trein tot stilstand. Niemand weet hoekom nie en ons staan tussen êrens en nêrens.

Uitspring lyk nie juis na veel van ’n opsie nie.

Metrorail het reeds al wat ’n verskoning onder die son is opgedis vir wat fout is. Die weer en selfs beurtkrag was ook al die rede. Ek wag nog om te hoor hoe iemand verantwoordelikheid neem vir Prasa se krisis. Dis ook seker op ’n vertraagde trein.

Ná byna 35 minute beweeg die trein.

Sweeties, sweeties, peanuts!” laat hoor ’n smous. Van die ander kant kom daar ook een. Ek moes regop sit om seker te maak ek hoor hom reg: “BioPlus, BioPlus, selfie stick.”

Ons is buite die Kaapstad-stasie en ek maak my treinbuddy wakker.

Weet jy, treinry is eintlik ’n baie traumatiese ervaring – as jy jou nie in ’n koma skrik nie, stres jy vir die gestaan en raak jy gefrustreerd met Metrofail, of jy kan jou verkyk aan al die dinge en jou half mal lag.

Die lekkerte van treinry is dat daar nie ’n tekort aan stories is nie, #trainstories.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.