Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Hoe om met die ‘parasiet’ saam te leef

Oud, oud word, oud wees het verskillende gesigte waarvan die fisieke manifestasie nie juis sag op die oog is nie. Ek kan daarna kyk soos ek wil. Oud is nie mooi vir my nie. Dit begin altyd óf met grys hare, wat aanvanklik aantreklik is, maar net tot op ’n punt. Óf met plooie. Wat definitief nie eens tot op ’n punt aantreklik is nie. Hierdie twee jeugdiewe verskyn ook nie altyd in dieselfde volgorde by almal nie. Hemel weet. Wanneer plooie en grys hare mekaar ontmoet en saam begin baljaar op ’n lyf, dan is dit erg. Dis wanneer jy moet kies hoedat gehandel gaan word met die parasiet wat jou metgesel gaan wees vir die res van jou lewe. Jou keuse gaan bepaal hoedat dit innerlik met jou gesteld sal wees en hoedat mense jou sal ervaar en hanteer en gebruik en tot hulp sal wees, met die verbygaan van die lewensjare. Ek is opreg jammer vir dié wat met dubbele slae geslaan word. Wat, benewens die opstapel van jare, addisionele teistering van allerhande siektetoestande het. Oor hulle swyg ek.

Wanneer ek na die welstand van ’n tydgenoot verneem en die orreltjie trek los met “Aaag jong, jy weet mos hoe dit met ons oumense gaan. Elke dag ’n nuwe skeet en pyn en allerhande ellende wat met die jare kom”, is ek sprakeloos oor die lamentasie. Skynbaar net die teken vir die tweede strofe: “Nou wat doen jy nou eintlik om jou besig te hou? Jy weet. Dis belangrik om besig te bly, anders vreet die jare nog vinniger aan ’n mens en jou brein moet geoefen bly, anders is jou kop later ook nie meer so helder nie.” Dadelik is my ertjie onhelder, maar die oplossing volg onmiddellik met: “O, jy het mos darem kinders en kleinkinders rondom jou. Hulle hou ’n mens jonk en die kleintjies hou ’n mens besig, so jy is darem nie opgeskeep met jou tyd nie.” Sjoe! Slegte ontmoeting met oud.

Gelukkig weet ek om die onmiskenbare suur en bitterbek ou spul te vermy. Ek is oortuig hulle is die kroon op Satan se jare lange arbeid aan ’n siel. Dié onvergenoegdes wat ander verantwoordelik hou vir hul fisieke en emosionele welsyn. Hemele bewaar die skuldiges.

Allerhande goed word deur jonk, middeljarig, oud en stokoud gesê, geskryf, gedokumenteer, nagevors, gefilosofeer, geromantiseer, ge-poëtiseer, en amper sê ek soos my ouma “duiwel in sy m . . . weet wat nog”, om oud so te klee dat dit mooi en aanvaarbaar kan paradeer. Niks daarvan maak dit vir my aanvaarbaar en verander my gevoel daaroor nie.

Die humoristiese of soetsappige of swaarwigtige goed wat vir my aangestuur word met: “Ons is oud, Hester. Lees dit,” staan my nie aan nie. Vertel my iets waarvan ek nog nie gehoor het nie. Vir my is oud slegs ’n syfer in my kop en iets wat ek positief kan bestuur. En, ja dankie. Ek luister na die voorlesing van Spertyd op RSG. Voordat dit te luister was, het ek dit onder oë gehad. Tersaaklik, realisties, uitstekende kunswerk aanmekaar gesit soos net Elsa Joubert dit kan doen soos ook Die Naaimasjien van Rachelle Greeff. Vir my is dit ontstellend, hartseer en tragies. Ek verset my om te aanvaar dat dit is hoedat dit moet wees en sal wees met almal wanneer die jare opstapel.

Vir my sal oud nooit aanvaarbaar wees nie en nooit ’n vriend word wat altyd in my gedagtes en gesprek­voering botoon vier nie. Slegs ’n kennis wat ek nou en dan raakloop en ’n paar woorde mee wissel. Ek rebelleer nie, maar kies nie tydig en ontydig aan iets herinner te word, wat ek hoeka weet en mee saamleef nie. Dis nie wat my as mens definieer nie. Ek aanvaar my verantwoordelikheid om die proses te respekteer en te hanteer deur elke dag met vreugde en dankbaarheid te leef: Maar dit te omarm in my sien en waar word daarvan en daaroor lofsange sing, dit kan ek nie. Dankbaarheid oor die pad wat agter lê en die harde lewenslesse asook die goeie en die slegte. Ook wat my aandeel daaraan was om die uitkoms van elkeen te bewerkstellig; ja, dit bedink ek. Verderaan probeer ek nie belaglike goed aan my voorkoms doen en in my optrede om ouderdom te probeer uitoorlê nie.

Iets in oud se guns: Dit bekruip niemand nie. Van kleintyd word ons daarmee gekonfronteer. Dit is regverdig, want elkeen wat behoue bly in hierdie woeste wêreld, gaan oud word.

Dit bied jou die geleentheid om wysheid te bekom wat sal sorg dat jy ’n gesonde liggaam en gees het om deur dié tydperk van jou lewe te gaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.