Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Niks nuuts gebeur weer in die nuwe jaar nie

Indien ek baie slimmer was op 75 as wat die geval is, sou ek seker kon sien dat 2020 tot dusver, in die ware sin van die woord, ’n nuwe jaar vir Suid-Afrika is.

Vir my lyk alles egter nog dieselfde as verlede jaar en baie jare tevore, want steeds bestaan ’n te groot deel van die bevolking uit skurke, skelms en skarminkels wat nie ’n snars verander het om dinge vir hulleself beter te maak en moeilik vir die mense wat in liefde en vrede hiér wil woon en werk nie. Lyk ook nie of die duisende wat gedurende 2019 ingeboek is vir vakansie in die oorvol tronke ’n duik gemaak het in die getalle wetteloses wat die land beset en besmet nie.

Wat ook nie verander het nie, is die jaarlikse datum 31 Desember wat vir die oorgrote meerderheid van mense steeds ’n soort betowering inhou.

Hoe nader aan dié dag, hoe meer werk hul breintjies aan die beplanning van die nag en dag lange Nuwejaarviering van geen matigheid met eet, drink en lawaai nie. ’n Groot rumoerigheid met die verwagting dat met die aanbreek van 1 Januarie alles nuut is en niks van die Oujaar saamgekom het in die nuwe dag en jaar nie.

Ek weet nie wanneer besef diesulkes dat alles van die vorige jaar net oorgeskuif het nie en weer ewe gemaklik elke tree saamstap die nuwe jaar in. Hulle is ook dié met die nul-geld vir Januarie en aanhoudende geld-wurg tot einde Maart en dan is dit alweer Paasnaweek wat op dieselfde wyse gevier word.

Dis die soort mense wat elke dag deel van ons lewe is en waarmee Cyril en kie probeer werk vir ’n beter Suid-Afrika. Hulle wat niks bydra tot opbou en vooruitgang nie. Die permanente bakhand-staners en eise-stellers. Die afbrekers en brandstigters. Kwasi-verontregtes wat steeds ander skuld gee vir hul eie onvermoë om tot iets te kom. Gewoonlik trek hulle lekker voordeel uit wat Kieswetter pers uit die ongeveer 7% wat nie die Transvaalse wet kan ontduik nie. Hulle sal nooit leer dat elke mens verant­woordelik is om sy eie heil uit te werk én nie ten koste van ander nie.

By genoemde spul is ingesluit die blinkvet, skynheiliges wat steeds gewetenloos slaap in hul sagte beddens in ultraluukse wonings gekoop met geld wat bedoel was vir die vooruitgang van almal in die land. Steeds soekend na geleenthede om wraak te skree teen kapitalisme, kolonialisme en alle soort ismes, maar intussen gedy op wat die indringers se geld en kundigheid vir hulle moontlik gemaak het: Motors, ontwerpersklere, donkerbrille, telekommunikasie en al die luukses waarop hulle hul hande kan lê. Net nog enkeles het aan die pen gery en hul ereplekkie in een of ander luukse gevangenis gaan opeis.

Hierdie bydrae is die maklikste skryf ooit. Dit is so lekker duiwels geïnspireer. Die lelike is mos die mens se oernatuur. Negatiewe eksakte feite spring sommer self op die papier, want niks het juis verbeter op nasio­nale of plaaslike vlak nie. Behalwe dalk onbekwame Lesufi wat standpunt ingeneem het in die guns van die geboeliede kinders. Bogemiddelde intelligensie is nie nodig om raak te sien dat nog ’n Nuwejaar net ’n datum op die kalender is nie en hulle wat verantwoordelik was vir die status quo steeds hoogty vier.

Op persoonlike vlak, soos vir baie ander ook, was 2019 en die jaar tot nou, vir my en my gesin ’n besonder rowwe rit. Siekte, dood, hartseer, teleurstellings, inbrake, diefstal en brand; die almal het ons besoek en sommige kuier nog. Ek kla nie. Soos dit is, het niemand se sleg gestop met die twaalfde slag van die horlosie op 31 Desember nie, maar daar was ook goeie goed tussen die slegtes en dit het ook saamgekom die nuwe jaar in. Ek vertroetel dit en tel my seëninge en loop die dankbaarheidpad.

Ek soek gereeld na elke klein of groot voorbeeld van goeie en mooi goed wat gebeur en daar is baie. My hart sing wanneer ek lees van leerders wat onder byna onmenslike omstandighede hul skoolloopbaan, sommige met onderskeiding, voltooi het en ek bid vir hul toekoms. Ek sien soveel goeie gesindhede tussen ons mense in my dorp en in die land. Dit gee hoop en ek weet die sleg sal die goeie oorwin.

Die kersie op die Nuwejaarkoek was Izanne en Boeta wat met ’n spoed hier verbygekom het. Hy so mooi en trots in sy skooluniform. Heeltemal herstel van die ongeluk wat hom verlede jaar maande lank uit die skool gehou het. Hy neem twee ekstra vakke vir matriek om sy toekoms­droom te verwesenlik. Hy is entoesias­ties oor die lewe en is doelgerig.

Ek weet daar is hoop vir my land, want daar is meer jong mense soos hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.