Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Om koebaai te sê, is ’n bitter pil om te sluk

Verbeel jou as ouer jy moet koebaai sê vir die seuntjie of meisie wat voor jou grootgeword en skielik uitgeskiet het na ’n gereed-vir-skool-karnallie, wat die huis moet verlaat om na sy gekose skool te gaan. Verbeel jou dat hy of sy skielik so groot in splinternuwe, blinkswart skoolskoene en skoolbroekie/rompie en hempie met rugsakkie, waterbottel en kosbakkie en al lyk.

Verbeel jou dat jy hom of haar tussen ’n klomp ander vreemde sieletjies wat net so weerloos en verdwaald soos hy of sy lyk, moet los.

Verbeel jou jy moet koebaai sê en hoe jy wonder of hy of sy gaan cope, en verbeel jou hoe jy gaan verlang en stilletjies huil omdat hy of sy ’n bepaalde paar uur weg uit die bekende ruimte gaan wees – uit die oog en weg van jou beskermende hande en arms.

Maar verbeel jou as opvoeder wat op hoërskool met leerders aankom vir tien jaar of meer; leerders wat soos ’n moskombersie om jou skouers kom groei het en wat jy op ’n dag moet afhaal en eenkant plaas, want jy moet aanbeweeg . . . of halt roep en die tuig neerlê.

Dan wens ’n mens iemand kan ’n middel uitvind wat jou immuun kan maak teen die hartseer en verlange wat jou eensklaps wil opvreet en verslind.

Die bande wat ’n mens met kollegas en kinders opgebou het, moet nou gebreek word.

Jy dink weer aan die “maak vas jou veters!”-oomblikke; die “steek in jou hemp!”-oomblikke”, of die “hou op bubblegum blaas!”-gevalle en die “haal daai oorring uit”-tye.

Jy onthou die skool se dramaproduksie – die repetisietye ná skool, die toere na dramakompetisies, die adrenalien-oomblikke backstage!

En wat van sportafrigting in die warm son; jou diens as sportbeampte by die atletiek en die senutergende oomblikke in derby-tye!

Jy onthou die voorlees van briljante opstelle van sommige leerders, die verduideliking van die een of ander letterkundige uitdrukking, die ontsluiting van ’n gedig en die ontdekking van die prag in prosa – die wonderlike ontdekking van nuwe woorde en die saam lag vir ’n ontydige uitlating of grappie.

Jy onthou die terugplasing van werkstukke ná die eksamen in elkeen se portefeulje, punte op die rekenaar intik en jou kommentaar op rapporte.

Jy onthou ook die tee-vroutjie en die mense wat die skoolgebou in stand hou en jou glimlag wat hul dag maak.

Dan is daar die band aid-oomblikke – ’n vingertjie wat bloei en ontsmet en met ’n pleister toegeplak moet word. Ook die stem-hard-maak-situasie wanneer die vonke spat, maar net so gou as wat dit begin het, so gou word dit ontlont met jou deernisvolle begrip van sommige wat maar net bietjie jou aandag wil steel. Dit raak al moeiliker om individuele aandag aan leerders te verskaf as die leerdertal per klas al by die 50 trek, en dit in ’n klaskamer wat vir 30 kinders gebou is!

Hoe kan jy vergeet van die dae as die ouer skool toe kom omdat jy haar bloedjie te hard aangespreek het en sy jou trompop wil loop? En jy haar baie kalm terug aarde toe bring met: Mevrou, die tugwet verhoed dat ek of die hoof jou kind ’n loesing kan gee. Ons arms is afgesny. Ons het net ons woorde. En jy wil nou skool toe kom om ons woorde ook weg te neem. Ja, Mevrou, ons het net woorde tot ons beskikking wat ons in verskeie klankgrepe moet deel en aksente op moet plaas sodat dit die nodige uitwerking op jou kind kan hê. Soms kom die woorde ’n bietjie kras uit, ja. Dan gaan dra jou skapie dit buite konteks aan jou oor en jy saal jou strydwa op en kom by die skoolhek in soos ’n Romeinse soldaat om my plat te slaan terwyl die departement jou in jou kwaad sterk. Hoe vergeet ’n mens dié dramatiese kwessies in onderwys?

Jy koester ook die heimwee van sosiale oomblikke met kollegas, hul sêgoed (hoe leeg en hoe onsinnig ook al!) en die skaterlag, maar ook die konflik en konfrontasies en dreigemente van ’n skoolhoof wat elke letter en reël van die WKOD stiptelik uitvoer en vir wie A-simbole meer as die Tien Gebooie beteken, min wetend dat dieselfde A-simboolkandidate hul grootste lesse aan die universiteit van die lewe moet gaan leer – en soms lelik faal!

Tog is daar die verblydende onthou of wete dat sommige leerders wat deur jou hande gekom het, hul drome bereik het omdat jy hulle daartoe aangespoor het deur hulle in hulself te laat glo, ongeag hul haglike omstandighede – met of sonder A-simbole!

Ongeag enige dwarsboming wat jy oor die jare heen ondervind het, besef jy dat die kinders (en die kollegas en hoofde) saam met wie jy al die jare gewerk het, jou die opvoeder gemaak het wat jy vandag is, en kan jy met ’n glimlag by die skoolhek uitstap en komkommerkoel wuif: Koebaai!. Ernest Loth, voormalige onderwyser by Klein Nederburg Sekondêr, groet die onderwys ná 20 jaar vir ’n pos as opvoedkundige beampte by die Afrikaanse Taalmonument en -museum.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.