Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Vir Winnie Rust : ’n Besonderse vrou

’n Swerm Europese byevreter-voëltjies slaap somersaande in ’n boom in dr. Manie en Winnie Rust se erf. Laatmiddag oor Derdelaan draai hulle eers swaeltjieagtig, en sak dan geselsend aarde toe. Flitse blou-geel-groen-bruin vlerke vind weldra ’n vredige skuilte.

Herfstyd, soos nou, is dié kleine skouspel lank reeds verby, tot dit weer lente in die Boland raak.

Een laatmiddag wag ons saam op die byevreters se bedevaart terug boom toe. Keurige biltonghappies word uitgedra; iets koels word gesink. Die Ruste vertel stories uit my man se skooljare, en vra uit oor my swaer se pa wat saam met oom Manie dokter was. Ons praat oor die dorp waaraan hulle los meer as ’n halfeeu deel het, oor boeke, fotografie, musiek en skryfwerk.

Ek onthou presies hoe en waar ek die eerste keer iets oor Winnie Rust self gelees het. Ek was nog joernalis by die Paarl Post, die einste koerant waarvoor sy gereelde Post Scriptum-rubrieke sou lewer. Die laatoggend sonnetjie het op my lessenaar geskyn, en ek het gelees dat sy as ’n sogenaamde middeljarige 57-jarige ’n meestersgraad aan die Universiteit Stellenbosch behaal het.

Sy was al in die sestigs toe haar eerste roman, Martha (2004) verskyn het. Op ’n keer vertel sy hoe sy altyd wou skryf, maar haar werklike skrywery gelos het tot haar kinders goed uit die huis was. En hoe sy ná haar meestersgraad vir die eerste keer haar skryfwerk “uit die kombuis tot in die sitkamer kon skuif”.

Daarop kon ek vir myself sê: “Eendag, eendag, hê geduld soos tannie Winnie.”

Ons loop mekaar dikwels raak - by ’n kunsuitstalling, ’n boekbespreking of ’n optrede. Oom Manie dikwels met ’n hoed op, tannie Winnie met ’n sag-vroulike serp om die skouers. Daar’s altyd ’n motiverende woordjie, ’n uitvra oor my skryf- en werkery. Oor die kinders. So was haar aanslag met almal.

Iewers sit ek ’n middag lank op Derdelaan se stoep, want ’n artikel moet geskryf word oor hulle as Wellingtonners van die Jaar. Die toekenning erken onder meer hul gesamentlike bydrae, hul betrokkenheid by Klopse-groepe, by die Breytenbachsentrum se opbou en hul bemoeienis met plaaslike geskiedskrywing. Manie en Winnie Rust, sy aan sy op die bank, glad nie juis geneë met die kalklig nie.

Oor Wellington skryf tannie Winnie verlede jaar in die vrouetydskrif Leef: “Wanneer jy meer as vyftig jaar op ’n plek bly, word dit deel van jou menswees; ja, dit dra deur die jare by tot die soort mens wat jy geword het. Word hierdie hartland jou hartstog.”

Ek onthou haar verhale van doodgewone Wellingtonse vroue, voorgedra in die plaaslike museum. Ook die roman Margie van die Seminary, oor ’n paar ander merkwaardiges. Haar boekies wat die dorpsgeskiedenis feitelik dokumenteer. Ek onthou die aangrypende opvoering in St George’s Kerk van ’n Venster vol son, wat Lisbé Smuts en Faff Kirsten se verhaal van tragedie en dapperheid by Twistniet ’n dekade gelede uitbeeld.

Een middag ry sy saam na ’n doop, nie eens twintig kilometer ver nie. Bedagsaam bring sy sjokolade vir die bestuurder en ietsie vir die kinders. Nie verniet beskryf tydgenoot Breyten Breytenbach haar as “landelike adel” nie!

By die Bordienghuisteater verlede Saterdag is ons saam in die gehoor toe Koos Kombuis en Andries Bezuidenhout gesels oor moedverloor se vlakte en oor lente in die Boland. Albei sing ook nuwe liedjies met hoopvolle klingels, want albei besef dis hul land dié, ten spyte van dit alles. Danksy geloof, hoop en liefde.

Vanoggend loop ek deur ’n skemerhuis, soekend na haar Trek (2013), ’n boek oor die destydse gedwonge verskuiwings uit Fonteinstraat. Ek soek na Winnie Rust se eie woorde, as ’n soort troos.

Ek probeer die Internet. Iemand het binne vyf ure na haar dood reeds haar biografie op die aanlyn-ensiklopedie Wikipedia opdateer. Dit dui reeds die misdaad aan wat nou deel is van haar lewensverhaal én van Wellington.

Ek dink oor vroue wie se dood nooit nuushonde beïndruk nie. Oor ’n enkelma se verpletterde drome vir haar kind. Oor vroue soos Winnie Rust wat met fyn navorsing en deernis moeite doen met mense se verhale, en bereid was om in ander lewe in te tree.

Het sy toe ooit daarby uitgekom om vir haar kleinkinders oor haar geliefde Stilbaai en Goukourivier te skryf? Vandag huil ek oor die verlies aan ’n mens wat besonders mooi oud geword het, so al skrywende, laggende, meelewend. Ek huil oor my eie verlies aan ’n onwetende mentor. Wanneer die helderkleurige byevreters weer lentetye terugkeer Boland toe, sal ek haar dus tussen hulle soek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.