Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Wat is nou eintlik die betekenis van die lewe?

Wat is die ware betekenis van die lewe? Niemand kan dié vraag beantwoord nie.

Sommige sal sê dis liefde, ander sweer dis God, en dan die eeue oue idee dat God liefde self is.

Dalk geld? Maar wie sal erken dat hulle vir geld lewe?

As ek om my kyk, sien ek hoe leeg mense eintlik is. Ons mis iets.

Daar is ’n leemte en ek voel dit ook gereeld. Dit is binne-in ons en ons kan nie verduidelik nie. Dit kan te veel vryheid wees of dit kan bloot liefde wees, maar dit kan ook geld wees, finansiële vryheid, want ons almal kan goed doen met ’n knertsie daarvan.

Maar ons voel nie vervul nie.

Ons doen dinge ekstra; ekstra godsdiens, ekstra grimering, nuwe stokperdjies en soms ook nuwe verhoudings, so asof ons van iets wil weghardloop.

Hoekom is die lewe so verskriklik swaar? Maak ons dit self so swaar deur vrae te vra wat niemand kan beantwoord nie?

Asof ware geluk in die palm van iemand anders se hand lê. Onregverdig, ek weet, maar dis die gevolge van keuses wat ons maak. Dis die gevolge van die keuses wat ek gemaak het toe ek jonk was; baie jonk! En hoe volwasse ek ook al gedink het ek was, was ek naïef.

As jongmens wou ek dit nooit erken nie, want as jongeling maak ’n mens mos nie foute nie. Ek het geglo alles wat ek doen, doen ek bewustelik.

Ek meen, ons het almal ’n keuse, links of regs; reg of verkeerd? Dus moet ons mos die een of die ander met ’n helder verstand kies.

Ons kan die gevolge van ons keuses in ’n mate voorspel. Al wat ons elke dag doen, is om besluite te maak en sodoende die enigste moontlike beheer oor ons eie lewe toe te pas.

En, soos dit moet werk, betaal ons altyd vir ons keuses – goed of sleg. Maar ons moet altyd ons straf aanvaar, hoe seer dit ook al kan wees.

As jongmens het ek pyn verstaan en gesien hoe dit beweeg. Pyn wil gevoel word, so hoekom nog probeer wegskram daarvan?

Baie van ons wil dit nie voel nie.

Een ding wat ek nie voorspel of verwag het nie, was dat ons meer foute maak wanneer ons ouer is.

Ons voel die keuses wat ons maak dra meer meriete omdat ons nou ouer, en dus “volwasse” is.

Maar ons moet nooit vergeet nie ons kan tot in ons ou dae steeds verkeerde keuses en foute maak.

Ons moet nie onsself te veel blameer nie, maar ons kies hoe moeilik die lewe is; die lewe is wat ons wil hê dit moet wees. Ons wil eendag oud word, maar dan wonder ons waarheen ons lewe gegaan het?

Ons moet ons foute omhels, dit aanvaar en dan aanbeweeg.

Ons moet leef!

Ons moet jonk bly en die lewe geniet, want as jy jonk van gees is, beteken die lewe soveel meer. Dan is ons soveel meer dankbaar vir kleiner dinge, ons omhels en verwelkom elke fase van ons lewe, elke gebeurtenis, goed of sleg.

Die voordeel van foute is dit gee wysheid. En as ons die wysheid gebruik, sal ons eendag, wanneer ons oud is, nie wakker skrik en wonder wat ons met ons lewe gemaak het nie – ons sal weet.

Niks maak my banger as om die las van spyt te dra nie. Die lewe, dink ek, gaan oor ons wat die beste van ’n slegte saak moet maak en probeer om deur die slegte dae te kom sodat ons die goeies soveel meer kan geniet – as ons net daar kan uitkom.

Ons kan soveel meer goeie dae geniet mits ons besef ons moet dankbaar wees vir elke aspek in ons huidige lewe.

Ek bedank dus sosiale verwerping – daarsonder sou ek myself nie kon leer ken nie. Ek bedank depressie – daarsonder dit sou ek nie geweet het ek is ’n skrywer nie. Ek bedank uitsluiting – daarsonder sou ek nie geweet het ek is besonders nie. Ek is dankbaar teenoor beledigings – daarsonder sou ek nie gemotiveerd gebly het nie. Ek bedank teleurstellings – sonder dit sou ek nog steeds almal vertrou het. Ek omhels misverstande en ek knik my kop vir onkunde, want sonder dié twee sou ek nie ’n vrydenker gewees het en my oop verstand behou het nie. Ek bedank beskuldigings – as gevolg daarvan kan ek getrou bly aan myself.

Maar die meeste van alles, bedank ek die groot, wonderlike en aaklige pyn. Ons loop al ’n lang pad, dus bedank ek pyn omdat dit my sterk gemaak het deurdat dit aan my bly klou het. Pyn het geweier om my te laat gaan, maar nie voordat ek my uiteindelike self geword het nie.

Sonder pyn sou ek nie geweet het wat die lewe werklik is en die lewe nie gevoel en beleef het nie. Wie en wat jy is, mag nie van ander afhang nie en dit bly bo en behalwe als ons wat dit besluit.

Omhels jou foute en gebruik wat jy geleer het om beter keuses te maak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.