Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wellington
Koorleier laat Hugenote uitblink

Hugenote Hoërskool se koor het onlangs uitstekend gevaar by wat beskryf kan word as die Olimpiese Spele van koorkompetisies.

Hulle het met goud en silwer weggestap by die Wêreldkoorspele wat in Pretoria gehou is.

Bo en behalwe dit blink die koor uit met sy jaarlikse pronk-skouspele, soos Joseph and his technicolour dreamcoat, Grease en dies meer.

Die baasbrein agter die koor is Johann Enslin, bemarkingsdirekteur en koorleier by Hugenote Hoërskool.

Enslin vertel van sy liefde vir sang en hoe dit oor die jare gegroei het.

Enslin is ’n oudleerder van die Hoërskool Robertson en kom self uit ’n musikale familie.

“Ek het die voorreg gehad dat my ouers my al van vyfjarige ouderdom af by musieklesse laat inskakel het. Deur my skoolloopbaan het ek verskillende instrumente leer speel, soos kitaar en blokfluit, maar klavier en orrel was waarmee ek klaargemaak het.”

Toe hy 15 jaar oud was, het hy al by hulle kerk se eredienste begin orrel speel.

Ná skool het hy finansiële rekeningkunde aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Terselfdertyd het hy ook orrellesse by die universiteit se musiekdepartement geneem.

Hy beskryf ’n koor as ’n instrument en sê: “Koorsang is vir my een van die min instrumente wat ’n groter gehoor kan bereik.”

In 2013 het hy die pos as bemarkingsdirekteur by Hugenote aanvaar.

Hy rig die skoolkoor die afgelope tien jaar af. Dié koor was voorheen net vir meisies beskore, maar onder Enslin se leiding het seuns ook geleentheid gekry om lede te word.

Wat die skoolkoor so uniek maak, antwoord hy: “Verskillende kulture, agtergronde, tale, omstandighede, ouder­domme, rasse – en met al dié verskille is ons ’n familie wat ons passie deel en waar niks van die verskille saak maak as ons saam sing nie.”

Hugenote se koor neem jaarliks aan die ATKV-Applouskompetisie deel. Enslin sê hulle het oor die jare groten­deels goud ontvang op provinsiale vlak en ook al met cum laude en dubbelgoud by Eisteddfods weggestap.

Met hul uitstekende vertonings by die Wêreldkoorspele kwalifiseer hulle om in 2020 deel te neem aan die volgende spele wat in België sal plaasvind.

Enslin sê sy grootste uitdaging tot dusver was om albei sy ouers vroeg aan die dood af te staan.

Volgens hom was hulle besonderse sangers asook sy grootste ondersteuners en kritici. Met elke konsert wat hy hou, eer hy hulle deur twee sitplekke oop te hou.

Enslin sê sy ultimate produksie waaroor hy droom is Les Miserables. Hy noem wel dat daar sprake is van ’n blyspel in die nabye toekoms.

Én wat die skoolkoor betref, moedig hy hulle ná elke uitvoering aan om aan te hou verbeter en na die sterre te reik.

“My koor weet ek sal nooit sê hulle was perfek of selfs goed nie. My woorde is gewoonlik ‘ek is tevrede’, sodat ons kan verbeter . . . Ná alles bly ek dankbaar.”

* Huguenot High School’s choir has been going from strength to strength under the leadership of Johann Enslin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.