Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wellington
Span uit by B’bach se Tuin van Digters

Breyten Breytenbach, een van Suid-Afrika se mees gevierde en befaamde digters en ’n oud-Wellingtonner wat op 16 September 80 jaar oud word, is die digter wat vanjaar by die jaarlikse Tuin van Digters gehuldig word.

Die tema van 2019 se Tuin van Digters is (aan)dadig – ’n skerpskepping van Breyten Breytenbach, wat self by die Tuin van Digters gehuldig word.

Die Tuin van Digters, die tuiste van die Afrikaanse digkuns, word Vrydag 13 en Saterdag 14 September 2019 vir die agtste keer by die Breytenbach-sentrum in Burgerstraat 14 in Wellington aangebied.

Breyten, soos hy alom in die spreektaal bekend is, het saam met sy ouers en jonger broer en suster in die huis waarin die Breytenbach-kultuursentrum 12 jaar gelede gestig is, gewoon.

Hy sal buiten sy huldiging Vrydagaand, waar Laurinda Hofmeyr – bygestaan deur die baskitaarspeler Schalk Joubert – van sy getoonsette gedigte sal sing, ook Saterdagmiddag aan ’n paneelbespreking oor vertaling van gedigte en of sy gedigte vertaalbaar is, deelneem. Saterdagaand sal hy, met musiekbegeleiding deur Schalk Joubert, van sy gedigte voorlees. ’n Huldigingsbundel van die Akademie vir Wetenskap en Kuns, Breyten Breytenbach, woordenaar woordnar, word Saterdagoggend in ’n paneelbespreking bekendgestel.

’n Ander hoogtepunt is die toekenning Saterdagaand van die Ingrid Jonker-prys vir ’n Afrikaanse debuutbundel aan Pieter Odendaal vir sy bundel asof geen berge ooit hier gewoon het nie.

Ons Klyntji 2019, ’n alternatiewe, veeltalige zine wat gedigte, kortverhale, fotografie en comics publiseer, word ook bekendgestel met van die digters en skrywers wat hul gedigte en verhale sal voorlees. Getuies, ’n rymklets-trio van tussen Wellington en die Paarl, sal hul gedigte rymklets.

Afrikaanse digbundels wat bekend gestel sal word, sluit in Willem S. van der Merwe se Nuwe Vrese, Christo van der Westhuizen se debuutbundel Chrisalis, Diana Ferrus se Die Vrede Kom Later en Gaireyah Fredericks, een van die Breytenbach-sentrum se Mengelmoesdigters, se meTTie mAAn gePLa.

Daar is ook Engelse, Xhosa, Belgiese en Nederlandse teenwoordigheid. Frieda van den Heever, aanbieder van RSG se gewilde program Vers en klank, deel die verhoog met die digters Danie Marais, Jolyn Phillips, Lwanda Sindaphi, Diana Ferrus en Daniel Hugo wat gedigte in Afrikaans, Xhosa en Engels sal voorlees en saam dink en besin oor wat deur vertaling gewen en verloor kan word.

Prof. Yves T’Sjoen van die Universiteit van Gent sal benewens ’n huldebetoon aan Breyten Breytenbach ook vertel hoe Breyten se tagtigste verjaardag in Gent gevier gaan word.

Die Nederlandse sangeres Lieke Joosen en haar twee musikante is op hul eerste besoek aan Suid-Afrika. Sy vermeng bestaande Afrikaanse liedjies met eie toonsettings in Afrikaans van gedigte van onder andere Antjie Krog.

Dan is daar spesiale optredes deur Danie du Toit, voorsanger en skrywer (en digter) van Spoegwolf met sy kitaar, die talentvolle jong Akimba-musiekgroep, die digters van hoop van die Weltevrede Sekondêre Skool in Wellington, poësieteater deur die Breytenbach-sentrum se dramagroep, Woorde op Akkoorde deur Frazer Barry en sy musikante tussen 13:00 en 14:00 Saterdag, Willemien/Philoméne en :amaFranx met musiek oor die konteks van die lewe, die liefde en die spasies tussenin, en Elsabé Daneel se roerende voorlesing van gedigte van onder andere Breyten Breytenbach en Ingrid Jonker.

Die volledige program kan afgelaai word by www.breytenbachsentrum.co.za.

Kaartjies kos R350 vir albei dae (Vrydag en Saterdag), R150 per persoon net vir Vrydag (wat al die aanbiedings insluit), R250 per persoon net vir Saterdag (wat alle aanbiedings insluit), R50 per dag per student en gratis vir opbetaalde lede van PEN Afrikaans.

Bespreek by Jeanne-Marie Gerber by besprekings@ breytenbachsentrum.co.za of skakel 021 873 2786 of 073 435 1022.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.