Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Paarl Post
Jong digter se passie gee stem aan stemloses
Veronique Jephtas is nie net 'n bekwame digter nie


Digters word dalk nie gesien as alledaagse helde en heldinne nie, maar sonder hul woorde en rympies wat ons omvou sal die lewe beslis ’n vaal en banale realiteit gewees het.

En alhoewel hulle en hul werke nie elke dag die nodige erkenning ontvang nie, word dit wel elke jaar op 21 Augustus op digters dag gevier.

Vanjaar het begin as enige ander jaar, maar dit is veilig om te sê dat dit wel ’n buitengewone jaar is. Juis hieroor gaan loer ons so bietjie in by een van die vallei se talentvolle jong digters, Veronique Jephtas, om te hoor hoe sy die afgelope paar maande kop bo water gehou het met die inperking, en of daar nog ink in haar pen is om haar verder deur die res van die jaar te help skryf.

Deur die inperking het Veronique nie regtig haar pen neer gesit nie, want sy werk nie net aan gedigte nie maar ook teaterstukke.

“Ek is tans besig met die Woordfees Skrywerslaboratorium wat vir die eerste keer hierdie jaar aangebied word. Ons is sowat 16 skrywers wat gementor word deur Saartjie Botha, Janice Honeyman en Lee-Ann van Rooi,” vertel sy.

As digter voel Veronique dat die oorvertel van ’n gedig belangrik is en ook om altyd eerlik te skryf.

Die afgelope het sy ook haar hande so vol gehad met ander skryf projekte soos die Jakes Gerwel Skrywersresidensie dat sy bietjie meer aandag geskenk het aan kortverhale in Kaaps wat deel sal vorm van haar tweede bundel. Maar Veronique voeg vinng by: “Ek skryf altyd los gedigte. So hier is altyd ’n nuwe gediggie in my notepad.”

Op die vraag of sy as digter ’n verantwoordelikheid voel teenoor ander is sy effe in die middel.

“Ja en nee. Ja, want ek dink dis nou, meer as ooit, die tyd om geraas te maak oor dinge wat saak maak. Daar is soveel dinge wat groter is as ek self, en daai sluit die toekoms in, en daarvoor is ons verantwoordelik.”

Alhoewel die erkenning vir digters verwelkom word, is Veronique min bekommerd oor erkenning omdat sy so lief is vir wat sy doen. As daar iets is wat mense dalk nie van haar weet nie is dit dat sy eintlik vreeslik senuweeagtig is om haar eie gedigte in publiek op te voer.

Die oud-leerder van Klein Nederburg Sekondêr is ook ’n bekwame aktrise wie onlangs te sien was in seisoen drie van Fynskrif op KykNet. Sy vertolk tans ook die rol van Joanne Opperman in Arendsvlei wat so nou en dan haar verskyning maak.

Te midde van al die geskryf en nuwe normaal wat volg saam met die Covid-19-pandemie maak Veronique gereed om van haar werk te publiseer.

“My teks, Hoe Change Hulle, word in die volgende paar weke gepubliseer saam met drie ander tekste vir tienertoneel. So, wees op die uitkyk vir Staande Ovasie deur Protea Boekhuis. My eerste digbundel kom ook in Februarie 2021 uit, so dis opwindend.”

Meer oor:  Paarl  |  Gedigte  |  Digters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.