Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stronk
Bloemfontein se Kannetjie boei in ‘Klippe wat val’

Die hunkering na broederskap, ’n ma se seerste verlies en grondbesit is van die temas wat in Klippe wat val oopgebreek word.

Wilhelm van der Walt, ’n bekroonde akteur en gebore Vrystater, is vir die fees terug in sy tuisstad om Kannetjie in Klippe wat val te speel.

Hy is opgewonde oor hierdie rol van hom in een van vier Philip Rademeyer-toneelstukke wat vanjaar feesgangers aan die praat het.

Die gebore Vrystater en bekroonde akteur Wilhelm van der Walt, wat Kannetjie speel in Klippe wat val. Foto: Cheréne Pienaar

Dié stuk, wat handel oor ’n verstandelik gestremde man wat in ’n hondehuis op ’n afgeleë plaas woon, het die debuutproduksie op die US Woordfees se WoordTROfees gewen. Wilhelm is ook benoem vir sy rol as beste manlike byspeler in Liewer, ’n aanpassing van die Britse dramaturg Patrick Marber se Closer.

Wilhelm grynslag as hy praat oor sy baard wat moes waai vir The Borrow Pit, ’n Engelse stuk wat verlede week op die planke op die Nasionale Kunstefees in Grahamstad was en einde November in die Kaap te sien sal wees.

“Ek het Kannetjie op die Woordfees met ’n baard gespeel, wat soveel help met sy beeld van verwaarlosing.”

As Ty in 7de Laan het sy gelaat ook gewissel tussen baard en skoongesig, maar met elke karakter wat hy speel, laat hy teatergangers ver verby sy gesig kyk.

“Verbeel jou maar vanaand ek het ’n groot baard.”

Die gehoor se verbeelding is inderdaad soos klei in die hande van Kannetjie en Abrie (Dean John Smith) se seepgladde vertolking van 31-jariges wat daarna kinders van nege jaar is en dan weer tieners van 15 jaar.

“Ons speel drie ouderdomme, en Dean speel dan nog die twee ma’s ook. Ek speel net Kannetjie. Hy het met geboorte te min suurstof gehad en is dus ’n bietjie stadig.”

Met die uitstap ná die vertoning sê Pierre Rousseau: “Dis rof, rof, rof.”

Nog ’n teaterganger sê: “As Kannetjie daai lyne so op die einde uitgooi . . . jô.”

Net soos Wild, die ander stuk wat Philip nie net regisseer nie, maar ook self geskryf het, tref Klippe wat val teatergangers diep.

Philip het met susters grootgeword en nog altyd gewonder hoe dit is om ’n broer te hê. Dit is die inspirasie vir Klippe wat val. Die agtergrond is ’n soort Kain-en-Abel-storie.

Die naam van die stuk verwys na meteore.

Wilhelm sê: “My karakter het ’n verskriklike fassinasie met die sterre en meteore wat skiet, en dit verwys na daai klippe wat afval aarde toe.”

Om met Philip te werk is vir hom ’n groot lekkerte.

“Dit is absoluut wonderlik. Hy gee jou vryheid om te voel vir sy karakter, en dan lei hy jou noukeurig. Hy het ’n baie goeie intuïsie vir menslike emosie.”

Jy het vier weke om die karakter te ontdek en te leef. Dit raak ’n mens baie meer.

Hoewel Wilhelm reeds langer as ’n dekade in die Kaap woon, het hy steeds baie mense hier.

“Ek het my vlug uitgestel tot Sondag, want ek moet ook nog by familie uitkom.”

Hy verlang na TV, maar teater bly sy eerste liefde.

“Ek sal nie omgee om hom (Ty) weer te speel nie. Ek hoor die helfte van die akteurs is in die tronk. Ty is in vir moord, so hy sal seker daar begin.”

Maar hy verkies teater.

“Jy het vier weke om die karakter te ontdek en te leef. Dit raak ’n mens baie meer.”

Tans is hy veral opgewonde oor Reza de Wet se Mis waaraan hulle volgende werk, en ook ’n landwye toer met die ATKV se tienertoneel-beoordeling in Augustus.

“Daarna is ek weer werkloos,” lag hy.

  • kykNET-Scaena, vandag om 17:00, R130, 85 min.
Meer oor:  Stronk  |  Vrystaat Kunstefees  |  Feeste  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Stronk Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.