SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Stronk
‘Danksy die dood kan ons praat oor die lewe’

“Ek sal die dood in die oë kyk soos ’n man, maar as die dood nie oë het nie, wat dan?”

Prof. Anton van Niekerk, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit filosofie, se nuutste boek, Die dood en die sin van die lewe, uitgegee deur NB Uitgewers, het onlangs die lig gesien. Hy het gister by die kunstefees oor sy boek gesels. Foto: Jaco Marais

In ’n volgepakte ATKV Boeke-oase het proff. Anton van Niekerk en Danie Strauss gefilosofeer oor die misterie van die dood, die hiernamaals, en Prediker as die groot postmodernis.

Strauss het onder meer bogenoemde aanhaling gelees uit aantekeninge en Van Niekerk gepols oor sy boek Die dood en die sin van die lewe. Hy het ook verwys na Elisabeth Eybers se gedig “Verhaal” en Eugene Marais se “Winternag” om die eensaamheid van en verlange na die dood uit te beeld.

Van Niekerk bring in sy boek die temas van lewe en dood in verband met mekaar. “Dis danksy die dood dat ons kan praat oor die lewe,” sê hy. Hy meen dis juis die dood wat erns en dringendheid aan die lewe gee. “Hoekom sal ons vreugde uit die lewe put as dit vir altyd aanhou? Ons sal sterf van verveling!”

Maar sal ons bewuste voortbestaan as ons lepel in die dak gesteek het?

Maar sal ons bewuste voortbestaan as ons lepel in die dak gesteek het? Oor die hiernamaals en die sin van die dood, hou Van Niekerk vas aan sy Christelike geloof sonder om voor te gee dat hy God ten volle op kan som. “Dat ek in lewe en in sterwe veilig is in God is die belydenis waaraan ek vashou, maar ek kan nie die inhoud in my geloof gee nie. Hoe presies God dit doen, weet ek nie.”

Hy meen verwondering en misterie is van kritieke belang. “Die misterie gaan verlore in die modernisme en die ewige soeke na kennis. Dis onsin. Ons moet teruggaan en misterie probeer ontwikkel. Dood is een van die groot misteries.

“Om dit te doen moet ons die geheel probeer ken en vrae vra soos hoe ons liggaamlik en geestelik tegelyk is.”

Hy twyfel of die hiernamaals die letterlike beskrywing van die Bybel van strate van goud en oneindige gesange voor die Almagtige troon sal wees. “Hoe moet moderne mense dit opneem? Maar ons weet die skepping gaan herstel word.

“Ons vrees die dood vanweë radikale onbekendheid.”

Volgens hom lê die eintlike vrees vir die dood rondom die proses van die dood. “En natuurlik die afskeid van geliefdes wat onverduurbaar is.”

Wat tel die dag as jy in jou kis lê? “Ons kan boeke skryf, ons kan artikels publiseer, maar op die ou end is al wat oorbly die kleed aan jou lyf en jou karakter wat oorbly.”

Die dood is die moontlikheid van die absolute onmoontlikheid van die mens. “Die skepping met die mens as produk . . . hoe moet ons dit kleinkry? Die mens het besondere moontlikhede maar daar is ook duister.”

Meer oor:  Stronk  |  Vrystaat Kunstefees  |  Anton Van Niekerk  |  Atkv  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Stronk Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.