Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stronk
‘DEURnis’ ontroer en ontstel

In DEURnis is die teaterganger stoksielalleen in intense tonele met die akteur of aktrise. En dit in ’n piepklein vetrek.

In een van nege stukke, Rou, is die teaterganger in ’n ontsettend intieme oomblik in die klein kamer vasgevang met ’n amper kaal akteur, Dewald van der Merwe.

“Dis bietjie close vir comfort,” sê Izelle van Tonder, joernalis van Stronk, wat die produksie met Conrad Bornman, fotograaf, beleef het.

“Dis anders as enigiets wat jy ooit op ’n fees sal beleef. Selfs vir ’n gesoute teaterganger sal dit iets nuuts wees.”

Bornman sê jy word gekonfronteer met kwessies waaraan jy nooit aandag gee nie. Sonder die gerief van afstand of die veiligheid van ’n gehoor.

Die resultaat is ontroerend en ontstellend.

Van Tonder sê die vertrek is bedompig en baie, baie klein; skaars groot genoeg vir twee mense.

“Met die intrapslag het ek gewonder wat my besiel het om in te stem om dié bekroonde produksie te gaan kyk. Of liewer, te beleef. Want hierdie stuk is presies dit: ’n Teaterbelewenis wat jy beslis nog nooit in jou lewe ervaar het nie. In hierdie driepakket toneelstukke word jy as gehoorlid in die diepkant ingegooi, met ’n enkelmanvertoning en slegs een gehoorlid: Jy.

“In die tweede stuk, Rou, is die akteur (Dewald van der Merwe) so naby dat ek aan hom kon raak. Sy oë kyk tot in my wese in. En hy praat met my. Hy vra vrae. Moeilike vrae. Maar ek antwoord nie. Hy skree en slaan op die muur langs my. Ek dink nie ek het al ooit so ongemaklik gevoel nie. En tog voel dit of hierdie teaterstuk nét vir my geskryf is; of ek die karakters in elke stuk persoonlik ken.”

Hierdie tipe teater is intiem en intimiderend, maar elke kwessie word met deernis aangepak.

’n Mens is altyd gewillig en gemaklik om ’n toeskouer te wees, maar in DEURnis word jy gedwing om deel te wees van die storie en rond te beweeg in die akteur se fisiese spasie.

“Die gehoorlid word ’n karakter in die stuk en teen die einde weet jy presies hoekom jy daar is en wat jou rol in die storie is,” vertel Johan van der Merwe en Rudi Saedler, die vervaardigers van die produksie.

Jy as gehoorlid word gestroop van die vierde muur wat jou gewoonlik skei van wat op die verhoog gebeur. Die gevolg is ’n letterlike konfrontasie met nie net die akteur nie, maar ook met verskeie kwessies wat baie keer in die samelewing ongesiens verbygaan.

Johan vertel dat die produksie veronderstel is om ’n mens te roer en ’n gesprek oor hierdie kwessies aan die gang te sit. Hy voeg by dat elke gehoorlid die stukke anders sal ervaar, afhangende van waar die persoon in sy of haar eie lewe is.

Izelle sê: “Hierdie tipe teater is intiem en intimiderend, maar elke kwessie word met deernis aangepak. Jy as gehoorlid word hiperbewus van wat om jou aangaan, hoe droog jou mond ewe skielik voel en die knop wat intussen in jou keel gevorm het.

“Dan, teen die einde van die drie vertonings verander die ongemak in ’n soort bewustheid, ’n stille aanvaarding en ’n verantwoordelikheid om te verander; of dit die wêreld of jouself is, sal jy self moet besluit.

“Ná die drie stukke voel of ek uit ’n brandende gebou ontsnap het of sopas ’n staatsgeheim ontdek het.

“Ek dink hierdie gevoel mag dalk net verslawend wees; ek is nou deur en deur ’n adrenalien-junkie vir een-tot-een-teater.”

  • DEURnis kan vir die res van die week in die Beyers Naudé-koshuis beleef word.
Meer oor:  Stronk  |  Johan Van Der Merwe  |  Feeste  |  Rou  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Stronk Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.