Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stronk
‘Dis mos Oom Fanie wat die boeke skryf!’

“Mamma, gaan ek die tandemuis sien?” vra Skyla Kotzee (2) bekommerd by gisteroggend se #VsLitfees-storieuur.

Mamma Rozanne paai dat dit nie vandag die tandemuis se beurt is nie, maar die bekroonde skrywer Fanie Viljoen s’n wat vir die jonspan stories gaan vertel en oor sy boeke gaan gesels.

Fanie Viljoen. Foto: Conrad Bornman

Die #VsLitfees-storieuur is deel van die Vrystaat Kunstefees se Litfees. Elke oggend kuier ’n ander skrywer saam met die kinders.

“Wie’s dit?” vra Skyla met ’n skril stemmetjie toe sy vir Fanie sien. Toe hy haar optel vir ’n foto sien ’n mens net tandjies en klink ’n luidkeelse “cheeeeese” op toe mamma die kamera se knoppie druk.

Die 9-jarige Elzanne Cloete is ’n groot Fanie Viljoen-aanhanger. Sy weet presies wie Fanie is. Met haar lang bruin hare sit sy tjoepstil met haar nuutste boek, Fanie se 13 spookstories, in haar hande. Fanie het dit vir haar geteken en ’n mens kan sien haar fyn vingertjies brand om te begin blaai.

Elzanne het al die pad van Delportshoop af gekom om vir Fanie op die fees te sien.

Fanie vertel van die karakter Hein in sy boek Plons, van Monsterrugby en Kaptein Verdwyn. Maar dis Slym, die wurm van Fanie se Slym-reeks, se ontmoetings met Paddarotti en Juffrou Plat Anna, wat die meeste aandag trek. Die kinders is vasgenael.

En toe Fanie papiere uitdeel sodat almal saam hulle eie Slym-karakter kan teken, is selfs klein Skyla gewen.

Fanie stap rond tussen die woelige lyfies wat druk besig is om wurms te teken en hy deel komplimente uit.

“Wat teken jy? Ook ’n Slym?” wil Fanie by Skyla weet.

“Ietsie” antwoord die selfvoldane kleuter.

Ná die storieuur stap die kleinspan elkeen trots met hulle kunswerke uit. Party se Slym-karaktertjies lyk beter as ander s’n, maar almal van hulle én hul mammas se dag is deur Oom Fanie Viljoen lekker gemaak.

  • Die Storieuur word tot Vrydag elke oggend om 11:00 by die ATKV-Boeke-oase (tent) gehou.
Meer oor:  Stronk  |  Vrystaat Kunstefees  |  Feeste  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Stronk Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.