Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stronk
Fees wag op fliekvlooie

Fliekvlooie kan hulle gereed maak vir ’n uiteenlopende rolprentaanbod op vanjaar se Vrystaat Kunstefees.

Op die rolprentfees maak opera vanjaar deel uit van die rolprentprogram. Die keuse val op Puccini se gewilde La bohème, deur baie beskou as die volmaakte opera.

Dis ’n onlangse produksie deur die Royal Opera in Londen en jong (goeie) sangers is gebruik sodat hulle minstens na studente lyk. Die Suid-Afrikaanse bariton Jacques Imbrailo sing ook.

Braam Muller, koördineerder van die rolprentfees, sê vanjaar is daar helaas nie ’n dokumentêr op die fees nie, maar wel ’n animasiefliek – Loving Vincent waarvoor 115 kunstenaars skilderye in olieverf in Vincent van Gogh se styl geskep het. Dié pryswenner ondersoek die laaste dae van Van Gogh aan die hand van ’n laaste brief deur die skilder.

Regs is Elton Louw en naasregs Hamlet Scheeper, die hoofspelers in Pik en graaf, saam met van die ander amateurspelers.

Die beroemde Sweedse regisseur Ingmar Bergman is op die laaste dag van die fees ’n eeu gelede gebore en daardie dag word twee van sy gewildste werke vertoon – The virgin springwat hom basies onder die wêreld se aandag gebring het, en die stylvolle, ontroerende Cries and whisperswaarin drie susters en hul probleme verenig word by ’n sterfbed.

Dit is slegs enkele hoogtepunte op die rolprentfees. Die Literatuur-rolprentprogram bied vanjaar twee flieks (plus gesprekke) aan – Fiela se kind (met hulde aan die skrywer Dalene Matthee) en die Vlaamse Problemski Hotel gevolg deur ’n gesprek met die skrywer Dimitri Verhulst.

Vlieks op die Vrynge bied rolprentmakers en kykers die geleentheid om kortprente van alle soorte te ervaar, asook waardevolle gesprekke wat nuwe talent en idees bekend stel. Bark – BArch non fiction films deur die honneursstudente van die Universiteit van die Vrystaat bevat tien van die treffendste en mees sinryke flieks wat onder twee temas verdeel is.

Dié rituele en maatskaplike dramas bevat vyf kortprente van twee minute elk wat verkennend kyk na die verandering wat die verlede, die hede en verbeelde dramas op die universiteitkampus meegebring het.

In Death by Glass onder die regie van Shawn Raymond roep ’n jong man om hulp na sy twee beste vriende toe hy besef albei sy niere is weg. Hy en sy vriende beleef ’n onvergeetlike dag, maar nou dat sy niere veilig in ’n glas laevet melk is, besluit hy om op ’n fabelagtig-morbiede manier die emmer te skop!

The First Week met regie deur Luke Mason en met Carel Nel en Jessica Erwin in die rolverdeling, handel oor ’n man wat gekonfronteer word met skielike gehoorverlies. Hy moet vinnig leer om hom aan te pas as dowe, maar gewaar die stremming wat dit op sy huwelik het.

Ean Bezuidenhout se Seeker’s Veldt speel af in die laaste dae van die Tweede Boereoorlog in 1901. ’n Britse militêre kaptein is hierin op soek na ’n verraaier. Wat hy kry, voldoen nie aan sy verwagtinge nie.

In Katgriep plaas ’n onaangename woonbuurt druk op ’n jong man met groot drome. Hy beraam ’n onderduimse plan om vinnig pad te gee, maar besef dit is moeiliker om jou van jou tuiste los te maak as wat hy gedink het. Jacques Cloete hanteer die regie.

Helen Namponya en Sam Sethuntsa span kragte saam in die prent Class-A-Gigolo waar jong mans en vroue hul lywe “verkoop” om vir hul studies te betaal.

In Pik en Graaf onder die regie van Vincent de Koker besluit twee vriende wat steeds by hul ouers woon, om weens onverkwiklike omstandighede uit te trek. In hul strewe na onafhanklikheid bevind die twee vriende hulle op ’n ontdekkingstog van die lewe en die gevolge wat regte en verkeerde besluite kan inhou.

  • Die Rolprentfees, die Literatuur-rolprentprogram en Vlieks vind alles in die Film Studio (Visual Media Hub) agter Pelliespark se paviljoen op die Universiteit van die Vrystaat se kampus plaas.
Meer oor:  Bloemfontein  |  Flieks  |  Kunstefees  |  Vrystaat Kunstefees  |  Films  |  Feeste  |  Stronk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Stronk Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.