“Ons is almal kaal gebore en die res is fopdossery.”
So sê Mark Dobson , die brein agter die Vryngeproduksie, What the Tuck, waarin die rolverdeling bestaan uit groot manne wat die rolle van vrouens speel.
Mark vertel hoe sy fassinasie met fopdossery begin het toe hy die televisieprogram RuPaul’s Drag Race begin kyk het.
“Dit was omtrent 10 jaar gelede. Daai tyd was dit nog ’n baie ondergrondse ding en nie baie mense het daarvan geweet nie.”
Maar deesdae is die idee van fopdossery en gesprekke oor geslag baie meer op die voorpunt van gesprekke, selfs in die Afrikanergemeenskap.
Maar fopdossery was al baie langer deel van Suid Afrika as wat ’n mens besef.
Fopdossery gaan daaroor omdie manlike en vroulike binne jouself te ondersoek en dan die beste dele van elk saam te smee om ’n beter algehele mens te vorm.
“Dink aan byvoorbeeld Pieter-Dirk Uys. Hy is ’n fopdosser – Evita Bezuidenhout. Sy was baie polities toe dit werklik saak gemaak het.
“Tog sien mense haar nie meer as ’n man in ’n rok nie, hulle sien haar as ’n regte, volwaardige vrou.”
Selfs Nataniël vorm deel van hierdie spektrum van geslag met sy gelyke gebruik van beide sterk manlike asook vroulike drag en beelde.
Fopdossery gaan daaroor om beide die manlike en vroulike binne jouself te ondersoek en dan die beste dele van elk saam te smee om ’n beter algehele mens te vorm.
Volgens Mark is mense deesdae so polities korrek en heeltemal te bang om iemand in die gesig te vat. Met fopdossery is dit presies die teenoorgestelde.
“Hulle kyk wat gebeur in die wêreld en maak ’n bespotting daarvan. Want dit is tog belangrik om oor dinge te kan lag.”
Volgens Mark is fopdossery nie net ’n manier om ’n boodskap oor te dra nie, maar ook ’n manier om meer van jouself te leer.
Vir mense wat dink fopdossery is ’n klomp snert, het Mark ’n boodskap: “Koop in elk geval ’n kaartjie en kom ondersteun dan maar die ‘stront’, want as jy nie aan alles blootgestel word nie, kan jy nie ’n opinie hê oor alles nie.”