Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stronk
Foto-poësie in die stof
Die groot druid van konseptuele kuns, Willem Boshoff, in sy plek van afsondering waar sy kuns verwerk word. Teen die bord is sy definisie van die woord “druid”. Hy hou ’n kopbeen en skedel vas. Van heel bo na onder: ’n Vergete eetstel wat al jare onder stof lê; ’n pa se vergete foto van sy kinders; en ’n vergeelde, vergete koerantuitknipsel oor ’n baba wat dood in ’n asdrom gekry is. Foto’s: Charles Smith

Willem Boshoff, die groot indoena van The Big Druid Walks-fototoere, het die regte doepa vir die stiksienige feesganger om die wêreld om jou beter waar te neem.

Dié doepa is stilte en om stip te kyk, te soek. Te kyk. Diep. Te soek in die patrone van verwering, geleefde lewe, verval.

En te kiek. Dan is jy besig met poësie. Poësie van die stof.

Boshoff het feesgangers op ’n toer na ’n ou houtwerkfabriek van die Spoorweë geneem. Die fabriek staan al jare gesluit, met al die toerusting steeds binne.

In die dik laag stof los hy die mense om foto’s te neem. Te soek na iets in die stilte. Patrone. Vlekke, skakerings in die skaduwees.

“Dit is wat dit so poëties maak. Jy moet tussen die lyne lees miskien. Die lig is baie saggies; dis baie sagte lig. Dis ’n belewenis, dink ek, om dit te probeer ontsyfer. Ek probeer basies net met die kamera tekeninge maak.”

Soek hy na poësie in die as van die lewe soos dié ou skuur waar die mense asof oornag hier uit is?

“Die poësie is nie letterlik nie. Dit is visuele poësie. Dit is in die vorm van sien, eerder as in die vorm van voordrag. Maar tog, daar is sulke eienaardige, stil stemme wat onder die stof uitkom. Jy sal self sien. Daar is goed daar van mense, wat prentjies opgeplak het, of notas, of half voltooide werkstukke. Jy sal self sien.”

Willem neem foto’s van borde teen die muur van die ou, verlate meubelfabriek.
Willem neem foto’s van patrone in die stof in ’n ou meubelfabriek buite Bloemfontein. Dit is deel van The Big Druid Walks-fototoer.
‘n Foto op ’n fototoer van ’n pa se vergete foto in sy toesluitkas van sy kinders. Dit is in ‘n verlate meubeldabriek van die Spoorweë buite Bloemfontein.Foto:
Willem Boshoff neem foto’s van patrone in die stof in ’n ou meu
’n Vergeelde, vergete koerantknipsel van ‘n berig oor ‘n baba wat in ’n asdrom gekry is, is hier teen ‘n muur in ’n ou, verlate meubelfabriek afgeneem op Willem Boshoff se The Big Druid Walk-fototoer. Foto:

Die druid met die grys baard, lang, grys hare wat oor sy skouers val, trap met sy Crocs oor die drumpel van die skuur die skaduwêreld in met sy klein kamera om die nek op soek na daardie stemme wat uit die stof te voorskyn kom.

Hoe dieper jy kyk, soek, hoe helderder word daai stemme.

Hy los die fotograwe om in doodse stilte die patrone in die stof te soek. Kransduiwe fladder in die skemer. Buite fluit ’n trein.

Die fotograwe neem foto’s van masjiene wat in die stof gevries het; van lig wat oor halfvoltooide meubels skuifel; foto’s van kinders wat ’n pa teen die deur van sy toesluitkas vergeet het. En ’n vergeelde koerantknipsel van ’n beriggie van ’n baba wat in ’n asdrom in die stad gekry is.

Boshoff neem so 150 foto’s in een sessie. Hy kies 15 later uit, en dalk kan een of twee later in ’n publikasie verskyn.

“Daar is gewoonlik verrassings. Jy dink nie daar is iets nie, dan sien jy by die huis hier is iets. Daar was ’n ou notaboek hier wat iets besonders was. ’n Notaboek sonder notas wat oud en gebruik gelyk het. Daar was ook een van die ysterplate wat baie geroes was. Toe ek hom omdraai, net om te loer wat onder was, is daar ’n huis met wolke (in die patrone van die roes).”

Hy lag deur sy grys baard.

“Gewoonlik vermy ek goed wat lyk soos huise met wolke en dinge wat soos boompies en stroompies lyk. Maar miskien gaan daai ding mooi wees, want dis so weird dat daai roes so mooi prentjie maak.”

Dit lyk of hy met baie spesiale verf geskilder is, sê Boshoff.

“Dis ’n avontuur. Dis wat dit is.”

Saans slaap hy met sy duisende objekte soos skulpe, skale, kieries en kopbene in sy gat onder Vishuis op die kampus.

Soos die druids van ouds – Keltiese kruiedokters waarvoor die Romeine ’n heilige vrees gehad het – bring hy genesing vir die innerlike met sy visuele poësie.

Danielle Jansen, ’n student in stilering aan die Universiteit van Stellenbosch wat die toer meegemaak het, sê jy kyk baie anders na normale dinge om jou as jy saam met Boshoff op sy fototoer was.

Tristian Nel, ’n kunsstudent aan die Universiteit van die Vrystaat, sê jy leer om gewone dinge se dieper konneksie met die lewe raak te sien.

“Jy sien die nuwe lyne, teksture en vorms van die eens gewone ding.”

Soos die groot druid dit stel: “Daar is skoonheid in die afvoerslote van strate en op ashope. Jy moet net soek.”

Meer oor:  Bloemfontein  |  Vrystaat Kunstefees  |  Foto's  |  Feeste  |  Kunstefeeste  |  Digkuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Stronk Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.