Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stronk
‘Ingrid Jonker is nie dood nie...’

Ingrid Jonker is nie dood nie.

Die digter se lyk lê nie meer met kneuswonde aan die kop in die see by Drieankerbaai nie.

Sy lig die vuiste van haar woorde en 52 jaar ná haar dood praat sy steeds met ons gevoel en gewete.

Petrovna Metelerkamp met haar boek Ingrid Jonker: ’n Biografie. Dit word as die “meesterlike laaste woord oor Ingrid Jonker” beskryf. Sy het ’n vol saal feesgangers op die eerste dag van die Literatuurfees as deel van die Vrystaatse Kunstefees getrek. Foto: Charles Smith

Die omvang en sukses van Petrovna Meterlerkamp se Ingrid Jonker: ’n Biografie wys haar stem is nog lank nie stil nie.

Die boekbespreking op die Literatuurfees op die eerste dag van die Vrystaatse Kunstefees het ’n vol saal boekliefhebbers getrek. Oud en jonk.

Hoekom is Ingrid Jonker onsterflik in ons literatuur en in ons gedagtes?

“Ek dink sy bly leef omdat sy so baie mense se gevoelens verwoord. Sy probeer nie deftig wees nie. Sy probeer nie slim klink nie. Sy probeer glad nie intellektueel wees nie, al was sy wat my betref hoogs intellektueel,” het Metelerkamp in ’n onderhoud gesê.

“Sy skryf oor die diepste menswees (en) skryf goeters op ’n toeganklike manier.”

Sy reken nie dit is ook oor Jonker se tragiese lewe wat sy ’n soort kultusfiguur geword het nie.

“Ek dink nie so nie. Die tragiese lewe is een deel. Maar dat sy ontsterflik is, is dansky haar werk. En dit is waarvoor sy geleef het. Sy was dwarsdeur haar lewe baie bewus van die feit dat sy gebore is om gedigte te skryf in Afrikaans.

“Die geskiedenis het gewys sy is ontsterflik. Daar is nie ’n digter wat ek van weet, in enige taal wat ek kon vind, wat om die aardbol so vertaal en so gesing word nie. En in soveel toonsetting, dis honderde. Jy moet ’n baie goeie digter wees. ’n Digter moet met jou hart praat, en jou verstand. Ek dink sy het daai balans gehad.”

Metelerkamp sê die reaksie op die boek is verstommend en wonderlik.

“Ek hoor net die lofpryse. Ek het nog nie ’n negatiewe woord gekry nie. Ek kan dit nie glo nie. Dit is fantasties. Die verkope is wonderlik.”

Dit is wat die Hollanders noem ’n uitputtende biografie. Dit beteken die volledige biografie. Ek dink ek het die bronne uitgeput.

Sy sê haar storie met Ingrid Jonker begin in 1994 toe oudpres. Nelson Mandela haar gedig “Die kind” in die parlement gelees het.

Sy het dit op televisie gesien. Sy het Ingrid Jonker se digbundel uit die boekrak getrek en toe sy hom oopslaan, het ’n berig oor haar dood uitgeval. Sy het dadelik gevoel daar is iets nie regverdig nie. Ingrid word polities as ’n speelbal gebruik en wat moet gebeur is om vir haar persoonlik erkenning te gee.

“Moenie net dat hy haar gedig gebruik nie. Ons wil weet wie is sy . . .”

Sy het dadelik haar artikelredakteur by Insig, waar sy ’n joernalis was, gebel en gevra sy wil begin navorsing doen oor Ingrid Jonker.

“Toe sê Cas (van Rensburg) vir my: Petrovna, ons het nog nie jou artikel oor die genetiese modifikasie van aarbeie nie . . .”

Sy lag.

Haar navorsing het ’n boek geword wat die resensent Herman Lategan as die “meesterlike laaste woord oor Ingrid Jonker” bestempel het. Talle nuwe feite oor die digter en haar lewe en verhoudings met die digter Jack Cope en skrywer André P. Brink kom na vore. Die laaste dae van haar dood is meesterlik vertel.

“Ek het toe begin navorsing doen. Tot einde Januarie het ek nog nuwe inligting gekry. Ek kan nie dink oor nog iets nuuts nie. Dit is wat die Hollanders noem ’n uitputtende biografie. Dit beteken die volledige biografie. Ek dink ek het die bronne uitgeput.”

Metelerkamp sê sy verskriklik hard gewerk. Sy het vir twee jaar voltyds geskryf hieraan.

Meer oor:  Ingrid Jonker  |  Bloemfontein  |  Gespreksreeks  |  Feeste  |  Stronk  |  Vermaak  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Stronk Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.