
Jo Black het sewe Ghoemas gewen vir sy liedjie/album Skepe.Foto: Elizabeth Sejake
Die Vrystaat Kunstefees 2018 sluit vanjaar op ’n hoopvolle noot af wanneer die sanger Jo Black die kerkdiens in die Kopanong-ouditorium more gaan lei.
“Dit vat net een klein klippie om ’n reus plat te slaan,” sê Jo Black wat geken word aan sy uitgesprokenheid oor sy geloof en hoe God hom by ’n dodgy kroeg kom red het.
Op die regte plek, op die regte tyd en met die regte liedjie, het die regte persoon ingestap en my gehoor sing, sê Jo in ’n video wat hy sowat ’n week gelede op Facebook gepubliseer het.
Hierdie video het groot opspraak gewek en meer as 430 000 mense se harte aangeraak.
Net soos die storie van die klein klippie wat met groot geloof gegooi is, verkondig hy die boodskap van hoop.
Jo Black het oornag bekend geword as die man met die groot baard wat die boodskap van hoop en goedheid weer deur sy lirieke terugbring.
Uit persoonlike struikelblokke wat hy al self deur sy lewe moes oorkom, inspireer hy ander mense met sy eie storie van hoop.
“Solank jy nog steeds jou hartklop voel, is dit nie verby nie. Bring die hoop weer terug.”
Jo gaan more om 18:15 die boodskap van hoop aan Bloemfontein en sy mense met sy lirieke en motiverende woord bring. “Ons is gemaak in hoop se naam,” sê hy.