Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stronk
Kunstefees ‘wil denkgrense verskuif’
Vir.Ander is een van die gewigtige stukke op vanjaar se Vrystaat Kunstefees. Dit gaan oor gay seuns wat na ’n opleidingskamp gestuur word om “genees” te word. Foto: Sanmari Marais

Die organiseerders van die Vrystaat Kunstefees is nie bang om gewigtige en moontlik omstrede onderwerpe na die verhoog te bring of in gespreksreekse te belig nie.

Hulle verwelkom trouens enige moontlike kritiek wat dit kan uitlok, sê dr. Ricardo Peach, die feesdirekteur. Die fees het Sondag in Bloemfontein begin.

Toneelstukke, selfs dansteater en tienertoneel, skram vanjaar nie daarvan weg om omstrede of ongemaklike onderwerpe te takel nie. Ook die Literatuurfees wemel van gelaaide onderwerpe wat van gesinsmoorde tot erotiese fiksie wissel.

Vir.Ander kan een van die mees veelbesproke stukke op die fees word. In dié drama beland jong gay seuns op ’n omstrede “bekeringskamp” wat hulle “in mans moet probeer verander”.

Ook die stuk Wild kan teatergangers uitdaag met die uitbeelding van ’n vuil, uitgeteerde jong vrou wat nie kan praat nie, wat handeviervoet loop en deur honde grootgemaak is en wat menslike gewoontes aangeleer word.

Dan is daar GodgOdgoD waarin “skepping” ondersoek word en wat in die feesprogram as “grensloos” beskryf word.

Volgens Peach moet feesgangers aan grensverskuiwende werke blootgestel word om te kan groei.

“Om mense emosioneel en intellektueel uit te daag is een van die fees se doelwitte en dit is hoe mense groei en ontwikkel: Deur iets buite hul verwysingsraamwerk te ervaar en daardeur getoets te word.

“Baie mense kom hierheen om uitgedaag te word. Jy gaan altyd gehore hê wat van verskillende goed hou. As jy groot genoeg is, kan jy besluit of jy van iets hou of nie.

“Ons is nie bang vir kritiek nie, ons wil dit hê. Dit is hoe ons ook leer en groei,” sê Peach.

Marthinus Basson, veelbekroonde regisseur bekend om sy uitdagende werk, het onlangse gesê hy vind gehore nou meer konserwatief as in die verlede. Dit het selfs betrekking op satire, kritiek en die bereidwilligheid om blootgestel te word “aan idees, tekste van elders en stories wat nie ‘ons’ is nie”.

“Dit geld nie net gehore nie, maar ook akteurs.”

Veral onder jong mense ervaar hy meer en meer dat “sloganeering” en “selfgeregtigheid” aangehang word, eerder as wat insig ontwikkel word of ’n bereidwilligheid om die grense van die gees te ontgin.

“Alles voel vir my meer voorskriftelik as in die verlede. En ek sluit daarby die sensuurstelsel in. Dit is ’n ondermynende, selfopgelegde stelsel wat in bloedarmoede kan ontaard.”

Op die Literatuurfees is moord en dood in ’n paar gesprekke relevant. ’n Bespreking wat beloof om ’n vol saal te lok, is Dinsdagmiddag se gesprek Gesinsmoorde – wat steek daaragter? met skrywers van boeke oor onlangse gesinsmoorde in Suid-Afrika.

En net om die gemoedere straks nog ’n aks hoër te laat klim is die grondonteieningskwessie ook op die program. Die fees duur tot Saterdag.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Kunstefees  |  Vrystaat Kunstefees  |  Feeste  |  Stronk  |  Drama  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Stronk Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.