Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stronk
Leef die kuns van hierwees

Die dag voor die fees begin lê die kampus kaal. Hier en daar is ’n tent reeds opgeslaan maar leeg, asem ingehou vir ’n week in volkleur.

Ek verken my alma mater soos ’n ou vriend. Om hierdie hoek het ek in my derdejaar sielkunde-notas uitgeruil. Doer het ek tartend op die rooi tiekie gestaan; ’n eerstejaar vol bravade wat die eer van opregte Vishuismanne wou toets. Sagkuns en vol grappe is ek onder die stortkop gedruk soos die statige koshuis se reëls dit uistippel; my pers Marjolein-T-hemp deurdrenk van water, Savannah Light en lag.

En anderkant die fontein staan ek, ’n veel jonger ‘finalejaar’, in afwagting op ’n selfoonboodskap wat iewers deur die netwerk van verwagtinge vasgehaak het en nooit by my uitgekom het nie. My hart voel skielik swaar, soos een wat ’n roosterkoek te vinnig verorber het.

En dan verdof die stemme – drie woorde op ’n bord by die verlate NG Kerk Brandfort-kosstalletjie staar my vol in die gesig. “Jy is hier!” verwelkom spierwit verfhale op ’n swart bord.

“Jy is hier.” Dit is ’n stelling, ’n vermaning en ’n hallo- sê in een, op ogiesdraad vasgemaak en aan ’n deur vasgespyker.

“Jy is hier.” Dit is ’n Google Earth-uitsig wat my herinner om asem te haal en my lewenskaart te waardeer. Om ’n kopknik aan die lang kronkelpad agter my te gee, en dan ten volle vorentoe te kyk.

“Jy is hier.” Dit is ’n herinnering om die dreigende onbekende te los waar dit hoort, in die toekoms.

“In hierdie oomblik is daar baie tyd. In hierdie oomblik, is jy presies soos jy moet wees. In hierdie oomblik, is daar oneindige moontlikheid.”

Het die Amerikaanse skrywer Victoria Moran iets te make met die opslaan van die NG Kerk Brandfort-stalletjie? Dis asof sy hul preek met haar eie notas wou uitbrei. Ook sy verstaan die kuns van hierwees.

“Jy is hier.” Die voetpad voor my is skoongevee, reg vir môre se fees, se drama, se wees. Geagte feesganger: “Jy is hier.” Dis ’n preek in drie woorde wat my hart dankbaar indrink.

Meer oor:  Feeste  |  Stronk  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Vrystaat Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Stronk Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.