Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stronk
Met rock-koning Van Coke is daar g’n pretensie, beheer
Francois van Coke in aksie in die Blêrkas. Foto: Charles Smith

Stuur die reddingsbote uit, want Francois van Coke is in die Rosestad en die hele Bloemfontein verdrink in sy musiek.

Ek beleef vir Van Coke vanaand vir die eerste keer live in die Blêrkas op die Vrystaat Kunstefees. Buite is daar stemme wat skater. Binne stoei ek deur die skare. Daar’s mense wat skree. Ek voel verbouereerd.

Maar hulle lyk onbeïndruk met my desperaatheid.

Uit die donkerte is daar skielik ’n ontploffing van neonlig. Die hemelpoorte het oopgegaan en ek’s in die middel van die mosh pit.

Francois van Coke skyn heilig en duisende hande reik verby jou uit, asof hulle hom aanbid. Op die verhoog is die silhoeët van ’n Afrikaanse rock-god.

“Kan julle sing hier in die Rosetown? Julle lyk mooi vanaand,” sê hy met daai kenmerkende stem wat Fokofpolisiekar bekend en berug gemaak het.

Dis poësie in die rofste manier moontlik.

Dis poësie in die rofste manier moontlik.

Van Coke sing vanaand suiwer rock en dit slaan jou hard teen die kop en diep in die hart. Dis asof jy ’n voet van die grond af op die musiek sweef. As dit klank is waarna jy soek, dink ek jy’s op die regte plek.

Hy swaai sy mikrofoon. Iewers val ’n meisie flou.

Die skare strek tussen jonk en oud, en hulle los alle pretensie by die deur. Vanaand het hulle geen beheer; hulle staan terug vir niemand nie.

Vanaand behoort hulle aan niemand nie, net aan hul koning – Van Coke.

Hy swaai sy mikrofoon. Iewers val ’n meisie flou.

Hulle sit hulle selfoonliggies aan en sing uit volle bors. Hulle stem met elke woord saam.

Die hemelbesem voor my lig sy vuis en gooi die helfte van sy dop op my uit. Maar ek gee nie eers om nie, want ek verstaan dit nou. In ’n wêreld waar daar elke dag vir jou vertel word dat jy moet spaar vir jou ou dag en jou testament in orde moet hê, vertel van Coke vir jou daar is meer as genoeg hier op aarde vir jou oor.

My bene is seer en my kop klop. Ek het genoeg geskree en het niks meer nodig nie. Maar tog wil ek hier staan tot die son uitkom.

Lyk my dis waar wat hulle sê: van Coke raak régtig net beter soos hy ouer raak.

Eerste indrukke bly staan en ek weet sommer vanaand het ek my tyd en energie wys belê. Ek weet nie veel nie, maar een ding is vir seker: Francois van Coke sal konstant bly.

Maar miskien weet ek eintlik nie. Van Coke sing dan juis: “As jy die waarheid praat, gaan hulle jou wil doodmaak.”

So moenie my vertrou nie.

Daar was baie bier en ek kan nie als onthou nie. Maar ek was meeste van die tyd . . . álles behalwe verveeld.

Meer oor:  Stronk  |  Vrystaat Kunstefees  |  Francois Van Coke  |  Bloemfontein  |  Musiek  |  Musikant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Stronk Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.