Alpha
- Regie: Erwin Maas en Stef de Paepe
- Met Manzikazi Scota, Jane Pholo, Gerben Kamper, John Paka, Vaneshrem Arumugam, Saree van Coppenhagen en Crystal Donna Roberts.
- Plek: André Huguenet-teater
Dit gebeur min dat ’n moderne teaterproduksie jou so meevoer soos hierdie werk.
Die groot vraagstuk oor die Alfa-generasie, en watter eienskappe aan hulle toegedig moet word, kom onder die loep.

Die akteurs Vaneshran Arumugam, Jane Mpholo, John Paka en E Lee in ’n toneel uit Alpha. Foto: Mlungisi Louw
Die produksie vind meervlakkig en met behulp van multimedia plaas. Die gehoor word vooraf in kleiner groepe ingedeel en dan na verskillende lokale gelei waar kort tonele afspeel. Daarna keer almal terug na ’n gesamentlike groot ruimte vir die sintese van die nuwe generasie deur middel van grootskermprojeksies, beligting, klank-in-die-rondte, kort tonele en vele meer uitbeeldings. Hoewel die gehoor nooit versoek word om enigsins deel te neem nie, word die waarnemingservaring versterk deurdat al die spel in en om die rondstaande gehoor plaasvind.
In die stuk, met die steun van NATi, die Koninkryk van Nederland en die Vlaamse regering (België), het ’n Suid-Afrikaanse span asook internasionale kunstenaars, opdrag gekry om Suid-Afrikaanse tieners uit te vra oor hulle beskouing van die Alfa-generasie. Die reaksie van die tieners word in hierdie kragtige teaterervaring in verskeie kort fragmente uitgebeeld. Hierdie fragmente vorm dan binne die groter konteks ’n algehele indruk.
Die produksie en spelers is afgerond en elke karakter en insident dra dan by tot die groter geheel. Die organisering van die gehoor en die begeleide besoeke aan onderskeie tonele vind flink en sonder enige gewag of onsekerheid plaas.
Gerben Kamper se veteraanspel val egter op. Hy vertolk die rolle van ’n ontlastende man wat op ’n toilet bo die groot stad uittoring, asook dié van ’n Afrikaner-bossater. Die ander spelers tref ook met flink, weldeurdagte vertolkings en integrasie. Die stuk speel in Afrikaans, Engels en SeSotho. Hierdie is ongetwyfeld een die mees indrukwekkende en blywende teaterervarings wat ek nog beleef het.
Vreemd, maar vars!