Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stronk
'n Pot vol Stronk: Jy’t net ’n week van fees

Jy het net sewe dae oor om te leef. Dít is hoe ’n mens die Vrystaat Kunstefees moet aanpak – soos iemand met ’n doodsvonnis. Met dringendheid. En volharding. Vol lus en lewe.

Dít is dan nou die bisarre (maar verdienstelike) idee waarop ek my gedagtes vestig terwyl ek my asem voor my oë sien wit word en my neus pienk gesoen word deur die Vrystaatse koue wat so eie is aan die Vrystaat Kunstefees.

Ek het al baie gedink oor wat feeste so aanloklik maak. Wat maak dat feesgangers en kunstenaars landwyd elke jaar die koue aandurf en terugkeer? (Wel, behalwe dan nou vir die noodgedwonge siklus van geld maak en uitgee … maar dis ’n storie vir ’n ander dag). Ek glo daar’s iets dieper; iets meer as net die kos, klanke, kunstenaars en gees. Vir my lê die misterie van ’n kunstefees in die verganklikheid van die hele affêre

Sien, die Vrystaat Kunstefees is soos ’n seepborrel; in ’n oogwink is dit verby. Dis so vlietend soos ’n gedagte of die laaste noot in ’n klavierconcerto. Dit is die troupaar se eerste soen voor die kansel, of ’n draairoomys wat op ’n warm somerdag oor jou hand smelt. Maak nie saak hoe baie jy dit geniet nie, die lekker hou net nie lank genoeg aan nie. En is dit nie maar so met alles in die lewe nie? Die mooi, en ek bedoel waarlike móói oomblikke in die lewe, lewe slegs vir ’n baie kort rukkie.

Elke feesganger besef, bewustelik of onbewustelik, dat hy of sy volgende week hierdie tyd in ’n oorverhitte kantoor of ’n klaskamer gaan sit en daarom geniet hulle hulself met ’n soort dringenheid wat mens op baie min ander plekke kry as op die Vrystaat Kunstefees.

Dis seker omdat ’n kunstefees is soos om water in jou hande te dra; maak nie saak hoe versigtig jy is nie, jy gaan dit druppel vir druppel langs die pad verloor.

Dalk het ek nou baie vinnig, baie diep geraak. Dalk effe soetsappig. Jammer, man. Blameer dit op hierdie suikersoet kaneelpannekoek wat ek pas verorber het.

Hoe dit ook al sy, daar’s ’n hele week van fees wat gefees moet word en jou feesklok loop met elke sekonde uit.

So gryp jou Stronk, gryp jou durf en gaan fees vir jou lewe.

Opskud, jy het net vyf dae oor!

Meer oor:  Stronk  |  Vrystaat Kunstefees  |  Feeste  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Stronk Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.