Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stronk
Nou fees ons al te lekker!

Hoewel die Vrystaat Kunstefees seker nie die grootste of oudste fees in die land is nie, is dit beslis die fees met die grootste hart, veral vir mense en vir Afrikaans.

Feesgangers met wie Stronk gesels het oor hul belewenis van die fees, is dit eens dat dié fees om verskeie redes uniek is. Veral die hartlike, warm atmosfeer en gees op dié winterfees word uitgesonder, maar ook die koestering van Afrikaans.

Leandré Kemp, Annelie Vorster, dr. Ricardo Peach, Suzanne Esterhuyse en Sonja Wolfaardt laat hulle nie deur ’n koue Bloemfonteinse oggend afskrik nie.Foto: cONRAD bORNMAN
Lambertus van Rensburg

Die Bloemfonteiner Lambertus van Rensburg is ’n gesoute feesganger en getroue ondersteuner van die Vrystaat Kunstefees.

“As jy nie hou van die Afrikaans of die opset van die fees nie, sorry vir jou my skat, dan bly jy by die huis,” sê hy tussen vertonings op die Kovsie-kampus deur.

Volgens hom maak baie Bloemfonteiners baie keer ’n ophef van ander kunstefeeste soos die KKNK terwyl hulle een van die beste feeste in hul eie stad het. Bertus hou baie van die Literatuurfees en Boeke-oase op die fees. Dit is vir hom opbouend en leersaam.

Vier vrouefeesgangers – Leandré Kemp, Annelie Vorster, Suzanne Esterhuyse en Sonja Wolfaardt – is dit eens dié fees in die Rosestad is die fees met die beste gees.

Hilde-Mari Tessendorf

Hulle kom elke jaar van die Kaap en Ficksburg af om dit by te woon.

Annelie sê sy is 13 keer KKNK toe, maar die afgelope paar jaar is die Vrystaat Kunstefees die enigste wat sy bywoon.

Leandré hoop om in die toekoms vir Elandré Schwartz of Jan Blohm by die fees te sien.

Hilde-Mari Tessendorf sê sy geniet ook jaarliks die fees, maar die kaartjies vir die vertonings het vir haar ’n bietjie duur geword.

“Maar ai, ek is lief vir my taal en dié fees.”

Hanriëtte Visser

Hanriëtte Visser sê vir haar is die fees ’n bymekaarbringfees van mense en kuns.

Vir haar was die hoogtepunt op vanjaar se fees die komiese eenvroudrama Los asseblief ’n boodskap. “Simoné Nortmann moet definitief erkenning kry dat sy stoksielalleen ’n mens vir iets soos ’n uur en ’n half kan vermaak.”

Annélle Tessendorf vul jaarliks by die werk ’n verlofvorm vir die feesweek in.

“Dis ’n absolute instelling en ek mis nooit ’n produksie van Ilne Fourie nie. Sy sê altyd presies wat mens voel.”

Volgens dr. Ricardo Peach, direkteur van die Vrystaat Kunstefees, sê die beste deel van die fees is die samekoms van mense van regoor die land, Afrika en buite Afrika.

Annélle Tessendorf

“Vra vir mense wat van ander Afrika-lande kom, dan sê hulle dit is so goed dat ’n groep mense veg vir hul taal. Ons is gewoond aan mense wat teen taal is en hierso sê die mense van alle lande in Afrika dat dit wonderlik is wat ons doen om ons taal aan die lewe te hou.”

Hy sê op vanjaar se fees is daar meer Afrikaanse produksies as ooit.

“Ons missie is om die Afrikaanse kern van die fees te behou en te laat groei en daarmee saam ander nasionale en internasionale tale en gemeenskappe in te bring. Dit is ’n Afrikaanse taalfees, maar ’n fees wat ook met ander tale en kulture saamwerk.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Stronk Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.