Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stronk
Oggend saam met ’n meester van die woord
Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede) is André le Roux se jongste pennevrug wat gister in ’n boekbespreking met RSG se Ilse Salzwedel by die ATKV Boeke-oase bekend gestel is. Foto: Conrad Bornman

Vrouens, wees op jul hoede. André le Roux is afgetree en kyk fyner as ooit.

“Maak oop jou handsak.”

As dié rubriekskrywer in die Sarie-kantoor rondgestap en dít aan sy vroulike kollegas beveel het, het hulle geweet hy is besig met ’n rubriek.

Ná amper 20 jaar is hy klaar by Sarie en sit hy by die huis. Nie op die stoep nie, agter sy rekenaar, ernstig aan die skryf. Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede) is sy jongste pennevrug wat gister in ’n boekbespreking met RSG se Ilse Salzwedel by die ATKV Boeke-oase bekend gestel is. Sy het een aand in die bed daaraan begin lees, vertel sy, en by die tweede hoofstuk was sy wawyd wakker gelag.

“Dis soos ’n energie-inspuiting. Rêrig snaaks.”

Le Roux se reaksie hierop: “Maar ek dink jy moet nog praat, want jy sê die mooiste goed.”

En Salzwedel skerts: “Jy weet jou uitgewers betaal my nou.”

Die boek is ’n samestelling van sy rubrieke. Maar hy doen ook ernstiger studies, soos oor die psige van versteurdes.

“Daar woon ’n psigopaat in my straat,” onthul hy vaderlik bekommerd aan haar.

In die gehoor sit skrywers, lesers, en getroudes wat lief is vir lag. Tog sien hy homself nie as ’n grapkas nie. Hy is ook ’n ernstige en deurdagte joernalis, soos hy dubbel en dwars bewys in Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste, ’n boek wat hy twee jaar terug geskryf het. Dit het hom selfs dieper laat delf in mans se psige.

Hy wens hy kan die nuwe vrou wat af in die straat langs die man in sy Mercedes-sportmotor sit, waarsku.

“Ek wil vra: ‘Vrou, weet jy waarvoor jy jou inlaat?’”

Ek het bloot gekyk, waargeneem, en geluister. As ek na twee vroue in ’n huisbak luister, kan jy maar seker wees, êrens is daar ’n rubriek.

Le Roux, wat sy loopbaan as “gewone verslaggewer by Beeld, soos almal” begin het, het later by Huisgenoot as mediese joernalis gewerk.

Daarna was hy kunsredakteur van Die Burger.

“Ek sê dit met ’n bietjie trots dat ek die resensent is in die hele Burger se geskiedenis wat die kortste resensie vir ’n teaterstuk geskryf het.

“Twee woorde. Een sin. Dit het gelui: ‘Liewer nie’.”

Toe Lizette Rabe, vorige Sarie-redakteur, hom “basies met ’n geweer teen die kop gedwing het” om ’n rubriek te skryf, moes hy eenvoudig gehoorsaam.

“En toe werk dit.”

In ’n rooi lêer het hy idees begin versamel.

“Ek het bloot gekyk, waargeneem, en geluister. As ek na twee vroue in ’n huisbak luister, kan jy maar seker wees, êrens is daar ’n rubriek.”

Salzwedel wil weet: “Hoe voel jou arme longsuffering wife oor hierdie goeters?”

“Kyk, sy inspireer my baie, maar dan gaan dit oor ’n generiese vrou.”

Dit is vir hom ’n jammerte dat vroue nie met die vrou in sy rubriek geïdentifiseer wil word nie.

“Hulle mis daai lieftalligheid aan die einde, wat ’n bietjie tragies is.”

Vroue wat deurmekaar raak met die verkeerde man interesseer hom veral en het gelei tot die psigopaat-boek.

“Jy kry nie sommer ’n man wat by die verkeerde vrou deurmekaar raak nie, soos byvoorbeeld André P Brink en Jack Cope.”

In die toekoms wil hy skryf oor kinders wat doodmaak en veral die ma’s wat dikwels die skuld moet dra.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Kunstefees  |  Vrystaat Kunstefees  |  Rubrieke  |  Feeste  |  Stronk  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Stronk Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.