Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stronk
Riglyn vir massiewe feesaanbod

’n Mens begeef jou op dun ys as jy ’n lys van aanbevole feesstukke moet opstel. Voorkeure en gehalteoordeel verskil net te veel. Maar as ek vir myself moes kies, sal ek die lys verdeel in konvensioneel, verrykend, horisonverbreding, aktueel en fynproewer.

Hopelik bied my lys ’n riglyn vir ’n keuse wat jou en jou beursie pas.

Konvensioneel
Die hele drama-aanbod slaag die toets, maar my persoonlike voorkeur is:

  • Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran: Dawid Minnaar lewer ’n kragtoer in meer as 1tien rolle. Met net lyftaal en spraak wissel hy tussen karakters in die lieflike verhaal.
  • Swerfgoed: Waterskaarste is op almal se lippe. Die stuk skets ’n moontlike scenario met die akteurs Anna-Mart van der Merwe, Nicole Holm en Richard September en Tinarie van Wyk Loots as regisseur.
  • Johnny Boskak is feeling funny: Dié bekroonde drama weerspieël die gevoel van baie Suid-Afrikaners wat nie weet waar hulle tuishoort nie. Die dramaturg, Greig Coetzee, se werke word ook in Brittanje vir televisie, radio en die verhoog gebruik.
  • Haal asem: ’n Universele verhaal oor verlies gegrond op die fratsongeluk waarin die akteurspaar Ira Blanckenberg en Waldemar Schultz se 14-jarige seun oorlede is.KomedieEk is ’n groot bewonderaar van Elize Cawood en Wilson Dunster wat in Mike en Mavis te sien is, maar of jy Elke briljante ding (met Ilne Fourie), Harry & Jackie, Los asseblief ’n boodskap, ’n Gewigtige saak of enige ander komedie kies, lag is gewaarborg.
Dink ook ernstig oor NRNNSA Die nuwe republiek van die nuwe nuwe Suid-Afrika wat ’n satiriese blik op transformasie in ons land werp.

Musiek
Die eerste keer in 18 jaar van die fees se bestaan wil ek nie een klassieke konsert misloop nie. Die rede? Gehalte-kunstenaars soos die Odeion-strykkwartet, Anmari van der Westhuizen en Jacques-Pierre Malan (tjello), Zanta Hofmeyr en Miro Chakaryan (viool), prikkelende programme soos Vyf klaviere en Fynbesnaard en die hele pakket soos Charl du Plessis Trio en Blondes met Rach en Rav.

  • Musiekteater: Amanda Stry­dom (So onner deur die maan) en My Miriam Makeba Story kry by my ekstra sterretjies, maar Cat Simoni (Bewitched on Broadway) en Flennie die snare sal ook genot verseker.

Dans
Beweeg buite jou gemaksone en gaan kyk vanjaar ’n dansproduksie. Al drie – Cion, Spanish Fire en In your Hands – het reeds die opvoertoets geslaag. Jy sal nie teleurgesteld wees nie.

Verrykend

  • Die reeks Hulde aan helde by Naln met sprekers soos Dan Sleigh, Willemien Brümmer (CJ Langenhoven se kleindogter) en selfs ’n J.R.R. Tolkien-bustoer word sterk aanbeveel.
  • Filmfees: Van die beste kunsflieks van oor die wêreld heen word vertoon en is boonop goedkoop. Kies ’n tema wat jou prikkel.
  • Vrynge: Hier vind jy juwele. Raadpleeg die program en gaan kyk ’n paar produksies. Jy sal aangenaam verras word.Horisonverbreding
  • GodgOdgoD is ’n interaktiewe, sensoriese teaterervaring; ’n reeks poëtiese fisiese eksperimente wat aspekte van verskeie skeppingsmites en -teorieë uitbeeld, bevraagteken, ontdek en ontgin.
  • DEURnis is unieke, grensverskuiwende teater: een akteur, een gehoorlid, plekspesifiek. Dit is ’n opwindende nuwe teaterervaring en ’n eerste vir Suid-Afrika.
Ander produksies wat enigmatiese ervarings belowe, is Alpha, Tok Tok, Bal-oog en Brommel, , Orkes van tonge en A.I.R.

Aktueel
Die Literatuurfees is vir nuuskieriges, nuusverslaafdes en natuurlik ook leesvrate. Om iets uit te sonder is om ’n lat vir myself te pluk, maar ek weet van feesgangers wat verkies om die hele feesweek hier deur te bring.

  • Dimitri Verhulst het na aanleiding van sy skrikwekkende ervaring in ’n sentrum vir asielsoekers Problemski Hotel geskryf wat ook verfilm is. Jaap Scholten sal hom en Arthur Umbgrove oor Siriërs en asielsoekers uitvra.
  • Trace deur Arthur Umbgrove handel oor drie Siriese broers van Aleppo wat in Nederland probeer oorleef.
  • Jaap Scholten is ’n Nederlandse skrywer wat na Hongarye verhuis het en Mira Feticu het haar geboorteland, Roemenië, vir Nederland verruil. Hulle gesels oor hul wedervarings en hoe hulle die aanpassing tussen Wes- en Oos-Europa navigeer.
  • Nog volksvreemder is migrasie van die Verre Ooste na die Weste, wat Anita Badami beleef het toe sy van Indië na Kanada geïmmigreer het, en Lynne Kutsukake Japan verlaat het om haar in Kanada te vestig. Helene Strauss van die afdeling Engels aan die Universiteit van die Vrystaat gesels met hulle oor dié groot kulturele verskille.
  • The Translation of love deur Kutsukake gaan oor ’n Japanner wat ná die Tweede Wêreldoorlog op ’n Amerikaner verlief raak. In daardie vyandelike tyd tussen die twee lande was so ’n liefde taboe.
  • Badami se romans Tamarind Woman en The Hero’s Walk handel ook oor liefde en vroue se aanpassing in ’n nuwe wêreld.
  • Klara du Plessis is ’n digter wat met Feticu saamspan om te gesels oor die digkuns se rol in die afbreek van kultuurgrense.

* Elretha Britz is Volksblad se voormalige kunsredakteur.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Kunstefees  |  Vrystaat Kunstefees  |  Feeste  |  Musiek  |  Dans  |  Stronk  |  Drama  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Stronk Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.