Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stronk
Simoné Nortmann = TV + silwerskerm + teater
Simoné Nortmann. Foto: Conrad Bornman

“Toe ek klein was het ek op KFC se toonbanke gesing en gedans vir ’n ekstra sappie of ’n ekstra hoendertjie, so ek dink binne in my is daar ’n popster.”

So som Simoné Nortmann, die nuwe liefling van Suid-Afrikaanse gehore, die ooreenkomste op wat daar is tussen haar en haar nuutste karakter, die blonde Afrikaanse popster Nina van Zyl.

Simoné is ’n bekende gesig op televisie, in die reeks Hotel, en het ook die silwerskerm naam gemaak met haar skittervertoning in Vir die voëls.

Onlangs het sy ook teater by haar lang lys van vaardighede gevoeg met haar eenvrouvertoning Los asseblief ’n Boodskap wat hier op vanjaar se fees op die planke is.

En as ’n mens kyk na al die vurige vrouens wat Simoné al vertolk het, insluitend Irma Humpel in Vir die Voëls en Janie in die fliek Wonderlus, kan mens sommer klaar verwag dat Nina van Zyl, die borrelende, gewese en gevalle 90’s-popster sekerlik ook die naam gaan wees wat vanjaar se fees op horings neem.

Los asseblief ’n Boodskap steek die draak met hoe kommersieel sangers partykeer raak om gewild te wees.

Verder raak dit aan die tema dat Suid-Afrikaners baie keer popsterre ophemel en dan uit die samelewing skuif sodra hulle ’n voetjie verkeerd sit. Dit is vanselfsprekend dat hierdie druk om perfek te wees ook bestaan vir ander bekendes, maar dit blyk Simoné weet presies wie sy is en waarvoor sy staan.

“Maar partykeer moet ek vergeet wie Simoné is, want Simoné is baie meer reserved as byvoorbeeld Nina. Ek doen nie eintlik sulke goed nie. Dit vat van jou om eintlik bietjie jou naam met ’n plank te slaan. Maar as ek heeltyd bang was oor wat mense van my gaan dink en sê, sou ek nie sulke goed kon doen nie. So daar is ’n tipe vryheid wat saam met dit kom om die gevoel af te skud”.

Simoné Nortmann. Foto: Conrad Bornman
Tog is Simoné se unieke manier om haar karakter te word ook juis dit wat maak dat oud en jonk aanklank vind by haar karakters.

Om verder voor te berei vir die karakter van Nina (en ook sommer omdat sy ’n “closet 90’s-pop aanhanger is”) het Simoné en haar regisseur, Maude Sandham, op die langpad na feeste soos Innibos liedjies van die Spice Girls, Britney Spears en Backstreet Boys geluister.

En daar lê nog baie lang paaie vir Simoné voor, met haar Art of Acting-werkswinkels wat goed op dreef is, sowel as die fliek, Stroomop, wat later vanjaar vrygestel word.

Suid-Afrika sal nie sommer vinnig kan vergeet van hierdie groenoog skoonheid nie.

“Ek kan in elk geval nie wiskunde doen nie, so ek moet hierdie doen!” skerts sy.

Maar as ’n mens so na hierdie jong aktrise kyk, is dit duidelik dat haar kop reg aangeskroef is en dat dit in elk geval nie nodig sal wees om sommer gou weer haar brood in ’n KFC of wiskundeklas te verdien nie.

  • Los asseblief ’n Boodskap wys Woensdag om 14:30, 13 Julie om 20:00 en 14 Julie om 10:00 in die André Huguenet-teater. Kaartjies kos R120 by Computicket.
Meer oor:  Simoné Nortmann  |  Bloemfontein  |  Kunstefees  |  Feeste  |  Stronk  |  Volksblad Kunstefees  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Stronk Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.