
Dr. Dan Sleigh en prof. Hermann Giliomee by die Vrystaat Kunstefees tydens die Hulde aan Helde-gesprekreeks. Foto: Charné Kemp
Geskiedenis moet buite die skoolmure oorgedra en debatteer word, het twee van die land se vooraanstaande geskiedkundige skrywers by die Vrystaat Kunstefees gesê.
Dr. Dan Sleigh en prof. Hermann Giliomee, akademici en bekroonde skrywers wat aan die Hulde aan Helde-gespreksessie deelgeneem het, het staande applous gekry.
Bykomende stoele moes in die volgepakte saal by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum (Naln) se gebou ingedra word.
Sleigh en Giliomee word vanjaar albei 80 jaar oud.
Benewens die gewigtige en bekroonde romans, boeke en navorsing wat hulle neergepen het, is albei ook te sien in Die Afrikaners, ’n TV-reeks op kykNET oor die geskiedenis van die Afrikaner, waaroor Giliomee ook boeke geskryf het.
Giliomee meen die regering se voorneme om die vak lewensoriëntering met geskiedenis vervang, is onwenslik.
“Geskiedenis moet eerder as lewendige debat buite die skool aangebied word, want daar is nie ’n absolute waarheid nie.
“Ek is dankbaar dat die TV-reeks uitgesaai word om die geskiedenis te vertel. Daar moet meer sulke programme gemaak word.”
Sleigh meen geskiedenis is wetenskap én kuns.
“Ek moes kuns in my romans gebruik om die geskiedenis verbeeldingryk uit te beeld.”
Giliomee meen dat Suid-Afrika aan die einde van elke eeu ’n enorme strukturele krisis beleef waarvan die toekoms onseker is.
Wanneer hy ’n boek skryf, het hy reeds die navorsing begryp. “Ek skryf die boek uit my kop uit.”
Giliomee meen dat Suid-Afrika aan die einde van elke eeu ’n enorme strukturele krisis beleef waarvan die toekoms onseker is.
“Teen 1795 was die Oos-Indiese Kompanjie bankrot, onderwys nie-bestaande, amptenare het hulself verryk en boere was gebelg oor die regering se gebrek aan beskerming. Teen 1902 het die Anglo-Boereoorlog die ekonomie byna gekelder.
“Tog kry mense dit altyd reg om weer op te staan en nuwe uitdagings aan te pak.”
Dit is insiggewend dat Andries Stockenström voor die Groot Trek vir Piet Retief gewaarsku het hulle sou ontaard in ’n yl verspreide bevolking wat van swart arbeid afhanklik is, wat vandag dalk steeds die geval is.
“Vandag staan geen Afrikaner-leier uit nie; nie eers taal kan die groepe verenig nie.”
Hy vind dit betreurenswaardig dat die regering hom ook nie aan bruin mense se behoeftes steur nie.
Suid-Afrika se jongste uitdaging is grondonteiening sonder vergoeding.
Sleigh en Giliomee is albei in etlike sake as deskundige getuies in grondeise betrek.
Sleigh is ook betrokke by ’n organisasie wat geskiedkundige dokumente bewaar, vertaal en navors sodat feite bewaar en wanvoorstellings verkeerd bewys word.